Deur Dirk van Genderen | Christelike Newswire

9 Januarie 2018

Daar is ʼn dringende beroep gedoen op Christene wêreldwyd om juis noudat daar groot onrus in die land is, te bid vir Iran en die Iranse volk.

Die Irans-Amerikaanse prediker, Reza Safa, ‘n voormalige radikale Moslem en stigter van die Christelike netwerk TBN Nebat Television, het die  dringende versoek gerig. “Die Iranse regime het sedert 1979, toe die bewind van Sjah Reza Pahlavi omvergewerp is, nog niks vir die volk gedoen nie. Inteendeel, ons volk is net onderdruk en die korrupsie het vererger. Die geld van die volk word deur die regime gebruik om internasionale terrorisme te finansier, ” het hy gesê.

Mense oor die hele land vaar die strate in om saam met duisende ander teen die regime te protesteer. Hoewel daar geen betroubare inligting oor die protes is nie, is dit wel duidelik dat daar al dosyne mense gedood  is deur regeringsmagte. In reaksie op die protes het die regime sy eie protesoptogte georganiseer.

Herlewing in Iran

“Die verskil met die vorige nasionale protesaksies is dat die vordering van die Evangelie in Iran nou sterker is as ooit tevore,” aldus Safa. “Die boodskap van redding deur geloof in die Here Jesus het ‘n groot uitwerking op alle bevolkingsgroepe in die hele land gehad, ten spyte van aggressiewe pogings van die Iranse regering om die vordering van die Evangelie te stuit. Die afgelope jaar het duisende Iraniërs tot geloof in Christus gekom, wat die kans op positiewe veranderinge verhoog, ” sê Safa.

Hy beklemtoon die belangrikheid van gebed. “As Christene wêreldwyd saam bid vir die volk van Iran op hierdie kritieke oomblik, glo ek dat God hulle hoor. Kom ons onthou die kerk in Iran en dink aan die redding van siele wanneer ons hoor van die onrus en die protes in Iran. Ek glo dat God ‘n leër van eks-Moslems voorberei om die Evangelie in die Moslem-wêreld te gaan verkondig. As dit die tyd van politieke verandering in Iran is, laat ons dan bid dat God ‘n goeie, nuwe regering sal gee. ”

Byskrif: Foto: CTN10


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.