1 Februarie 2019

Volgens AFriforum was daar verlede jaar ’n afname in plaasmoorde. Dit is die goeie nuus. Die slegte nuus is dat daar ’n skerp styging in plaasaanvalle was. Volgens die berig was daar gedurende 2018 sowat 432 plaasaanvalle en 54 moorde teenoor 342 aanvalle en 72 moorde in 2017.

Dit wil dus voorkom of boere beter na hul veiligheid omsien en hulleself beter verdedig.

“Plaasgemeenskappe baklei terug en gevolglik is daar ʼn afname in moorde. Meer slagoffers skiet terug, meer word opgelei en meer verdedig hulleself. Die getalle dui aan dat hoewel meer mense oorleef, daar egter steeds ʼn toenemende aanslag op mense op plase is. Ons sien dat goedgeorganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture ʼn ystervuis vir gemeenskappe word en dien as ʼn afskrikmiddel vir bedreigings,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid gesê.

“Boere en landelike gemeenskappe is onder geweldige druk. Nie net word hulle aangeval, vermoor of wreedaardig gemartel nie. Daar is ook ’n voortdurende aanval uit onder meer politieke geledere om hul te diskrediteer en verdag te maak. Dis ’n gemeenskap wat deur die regering verwaarloos word en wie se pleidooie op dowe ore val. Om hierdie en ander redes, moet AfriForum sy veldtogte verskerp om die wêreld se aandag op die krisis te vestig,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

AfriForum het ook die Wilmien Potgieter-fonds gestig. Die doel van dié fonds is om kinderslagoffers wie se lewens deur plaasaanvalle geraak is, finansieel by te staan en te ondersteun.

’n Opvolgskakeltoer na Amerika word ook beplan. Mariandra Heunis, wie se man, Johann, in 2016 voor haar en een van haar kinders vermoor is, sal ook die besoek meemaak om in breë slagoffers van plaasaanvalle in Suid-Afrika te verteenwoordig.


Bron: forumnuus.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.