-deur Will Maule

20 Augustus 2018

Die Diereregte-aktivisgroep, PETA, het ’n brief aan ’n Nashville-megakerk gestuur waarin hulle die kerk versoek om op te hou om tydens preke lewende diere ter illustrasie te gebruik.

In ’n video van ’n onlangse diens, onthul pastoor Galen Davis verskillende diere, waaronder ook twee verskillende leeus. Die eerste, ’n bergleeu, is ter illustrasie gebruik weens sy onvermoë om te kan brul. Die spesifieke bergleeu kan net “skree”, maar kan volgens Davis nie ’n brul produseer nie.

Die pastoor het dit vergelyk met die stem van die duiwel en gemeentelede aangemoedig om te verstaan ​​dat vrees in ons harte kan “skree”, maar dat dit magteloos is om in ons lewe te heers.

Davis het voortgegaan om te praat oor hoeveel mense valslik glo dat die Bybel die duiwel met ’n leeu vergelyk. “Ek het die Bybel bestudeer en die Skrif verwys net na een Persoon as ’n leeu,” het hy voortgegaan. “Moenie mislei word nie. Die Bybel sê die duiwel loop rond “soos ’n leeu”. Dit is die probleem: ons weet nie hoe ons Redder klink en hoe die vyand klink nie. Daar is net een leeu van die stam van Juda wat brul,” het Davis gesê en toe ’n volgroeide mannetjiesleeu in ’n perspekshok onthul.

“Daardie leeu is só kragtig; dit is só majestueus, dat wanneer Hy vir jou ’n werklikheid vir jou word …” die pastoor het omgedraai en die leeu in die hok uitgelok deur aan die kant van die hok te vat,” … verander dinge.”

Die enorme roofdier het onmiddellik opgespring en gebrul en heftig gereageer.

“Hy is in ’n hok en tog het julle almal geskrik,” het Davis senuweeagtig gelag. Die gemeente het na hul asem gesnak toe die leeu na die pastoor gekap het met net die dun perspeksversperring tussen hulle.

Davis voortgegaan met sy boodskap: “Laat ons nie die kreet van vrees verwar met die gebrul van geloof nie,” het hy verklaar.

PETA het kapsie gemaak teen die gebruik van diere tydens die erediens en gereageer met ’n paar preke van hul eie.

“Alle diere is individue, geskep deur God se wonderlike hand en hulle ervaar ook vreugde, hartseer, eensaamheid en vrees, net soos mense,” het hulle in ’n brief aan die kerkleierskap geskryf. “Deur hulle op hierdie manier te gebruik, ondermyn julle goeie rentmeesterskap van God se skepping.”

“Ons hoop dat julle sal saamstem dat hierdie wreedheid nie die beginsels van julle kerk weerspieël nie en dat julle sal besluit om diere liewer nie in toekomstige dienste te gebruik nie,” het die brief afgesluit.

Maury Davis, die kerk se voormalige hoofpastor en Galen Davis se pa, het gesê hy sien niks daarmee verkeerd om diere te gebruik as ’n manier om die Evangelie op ’n doeltreffende manier oor te dra nie.

Fotokrediet: Cornerstone Nashville

(H / T: Greenville News)


Bron: faithwire.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.