-deur Leah Grobler

13 Julie 2017

Uit ʼn groep ouers wie se kinders aan dwelms verslaaf was, het hulle beproewing en reis na genesing omskep in ʼn seën vir ander wat daardie selfde pynlike pad stap. Hulle het ʼn gebedsondersteuningsgroep begin en dit het merkwaardige resultate opgelewer. Van die oorspronklike lede se kinders het suksesvol herstel en beklee poste in die sakewêreld en is volwaardig betrokke in die samelewing.

Leah Grobler, die stigter van Act-Up-Support brei uit oor die ontstaan en roeping van die ondersteuningsgroep:

“Act-Up Support is ʼn gebedsondersteuninggroep sonder winsbejag, bestaande uit mense wat geroepe voel om vir iemand in te tree vir wie hulle lief is, en wat gebed dringend nodig het.

“Dit kan vir ʼn kind, ʼn ouer, ʼn broer of suster, familielid, kennis of nabye vriend/vriendin wees.  Die Act-Up Support-lid verbind hom/haar om vir ten minste een uur per week te bid vir persone wie se naam op die gebedslys geplaas is.  Hierdie gebedslys word maandeliks na al die geregistreerde voorbidders versprei en uiteindelik word elkeen se geliefde, 24 uur elke dag van die week, met gebed oordek.

“So staan ons in gebed saam en bid dieselfde Skrif om die Here aan Sy beloftes te herinner.  Omdat dit binnekamergebede is, kom ons seldet bymekaar om mekaar van aangesig tot aangesig te ontmoet en getuienisse en/of vrae met mekaar te deel nie.”

Leah bevestig die groep kom egter een maal  per jaar in Pretoria byeen in die vorm van ʼn gebedsontbyt. Belangstellendes kan gerus die oggend bywoon en meer uitvind oor hierdie groep gebedstryders wat ʼn verskil in ons samelewing maak.

“Die datum is altyd die laaste Saterdag van Juliemaand, “ sê Leah. “Dit was die Saterdag in 2000 waarop die eerste groepie van vyf ouers bymekaar gekom het om vir mekaar se kinders te bid, wat in daardie stadium in dieselfde rehabilitasiesentrum was,” vertel sy.

“Omdat ons die Onse Vader gebed, wat Jesus ons leer bid het, as ons riglyn gebruik, is ʼn bede van die Onse Vader elke jaar ons tema vir ons byeenkoms.  Vanjaar is die tema: “Laat U Naam geheilig word.

“Hoe kan ons in teleurstelling, skok en trauma God se naam heilig? … Mense wat tans ʼn krisis beleef, wat teleurgesteld en alleen voel, wat selfs nie eers meer kan bid nie, is welkom om te kom luister na die bemoedigende getuienisse van God se krag wat kettings verbreek – selfs kettings waar niemand meer glo verandering kan plaasvind nie!  Kom skep moed en word versterk!” sê Leah.

Sy nooi belangstellendes uit: “Ons gaan ook heerlik kuier, saam eet en saam bid. (Daar word van niemand verwag om in die openbaar te bid nie.)  Kom ontspan en drink die positiewe bemoediging in.”

Koste: R100 p.p.

Skakel Leah vir bespreking: 082 718 1176 of epos:  editor@actup.co.za


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.