15 September 2018

’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput.”  – Spreuke 17: 22

Positiewe gedagtes en gevoelens  kan hartpasiënte help om beter vordering te maak, volgens ’n artikel wat onlangs  in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer is.

“Ons het ondersoek hoe die sosiale omgewing, sielkundige welsyn en die doeltreffendheid van  strategieë om pasiënte by te staan, kan help om ‘n pasiënt se vooruitsigte te verbeter,” het Darwin R. Labarthe, ’n professor in Voorkomende Geneeskunde aan die Northwestern University van Feinberg gesê. “Ons het ondersoek  of daar ’n verband is tussen sielkundige welsyn [positiewe ingesteldheid] en ‘n laer risiko om aan ’n hartsiekte te sterf.”

Navorsing het getoon dat  daar ‘n positiewe verband is tussen optimisme (een faset van sielkundige welsyn) en minder hartsiektes. ’n Navorsingstudie van 2017 het aangetoon dat ouer vroue wat optimisties is, se risiko vir hartsiektes 38 persent laer was as ander vroue van dieselfde ouderdom.

Die mees optimistiese pasiënte was ook minder geneig om 12 maande later rokers te wees. Hoë vlakke van optimisme word geassosieer met gereelde fisieke aktiwiteit. Optimistiese pasiënte het gesonder diëte gehandhaaf deur meer vrugte en groente en minder vleis en lekkers te eet, wat op sy beurt lei  tot ’n gesonde gewig.

Die navorsing het bevind dat optimisme die gesondheid van die hart beïnvloed deur biologiese prosesse, gesondheidsgedrag en psigososiale hulpbronne.

“Optimiste volhard deur oplossings vir probleme te vind en strategieë te gebruik om hul stres te bestuur,” het Labarthe gesê.

“Dit kan dalk soos ’n uitdaging lyk om pasiënte te help om optimisties te wees wanneer hulle gediagnoseer word, maar dit bied ook ’n geleentheid om hulle te bemagtig om gesonder te lewe,” het Labarthe gesê.

Foto: via Scimex


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.