-deur Lindsay Elisabeth / faithwire

11 Junie 2018

Sondag ’n week gelede het ’n vulkaniese uitbarsting die land van Guatemala geskud. Drie van die wat gesterf het, was pastore – een van hulle was uit ’n familie wat altesaam 18 familielede verloor het.

Die evangeliese pastoor, Camilo Antonio Galicia Pamal, van die dorpie, El Rodeo in Esquintla, is dood aangetref in sy kerk waar hy aan die preekstoel vasgehou het. Hy was een van die 18 familielede wat in die vulkaniese uitbarsting van Fuego gesterf het. Sy vrou, vyf van sy kinders en vier van sy kleinkinders is ook in die vulkaniese uitbarsting oorlede.

Marco Antonio Galicia Pamal, Camilo se broer, het nie besef hoe groot die tragedie is totdat hy by die lykshuis aangekom het nie. Daar is hy meegedeel dat die meeste van sy familie omgekom het.

Cash Luna, ’n Guatemalaanse pastoor, het gesê dat Pamal se lyk in die kerk gevind is waar hy aan die preekstoel vasgehou het.

Die evangeliese pastoor was bekend vir sy liefde vir ander. Voor sy dood het Pamal op sosiale media gesê: “Empatie en liefde vir ander mense breek deur die onnodige godsdienstige mure wat deur die wêreld voorgehou word.”

Een van die pastoor se dogters wat die uitbarsting oorleef het, het vertel: “ Ek was in my huis toe dit gebeur het. Ek het daarin geslaag om saam met verskeie lede van my familie weg te kom, maar dié in ander huise kon nie,” het Irma Pamal gesê.

“Ons harte is gebreek oor die lewensverlies vir die duisende gesinne wat alles verloor het,” het Vernon Brewer, die stigter van World Help, gesê. “Ons moet nou barmhartigheid en deernis betoon en die nood hier help verlig. Ons doen ’n beroep op almal wat hulp kan verleen om ons te help om noodleniging aan die gesinne te verskaf wat alles verloor het.”

Byskrif: Foto: Instagram / María Del Rocío Lazo


Bron: faithwire.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.