11 Februarie 2019
“Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” –Psalm 116:15
Die sendingorganisasie, Gospel for Asia (GFA) het berig dat die leraar vermoor is wat op 19 Januarie in Mianmar ontvoer is.
Pastoor Tun N. (41) van Mianmar, een van GFA se veldwerker, is saam met verskeie ander mense doodgemaak wat ook deur ’n rebellemag in die Rakhine-streek van Mianmar ontvoer is. Gedurende die twee weke wat pastoor Tun vermis was, kon die plaaslike polisie en militêre personeel hom nie opspoor nie. Sy liggaam is op 1 Februarie gevind.
Tydens pastoor Tun se twee dekades in die bediening het hy die liefde van Christus met baie mense gedeel en verskeie gemeentes gestig.
Hy laat sy kosbare vrou, hul drie kinders en ’n kerk van meer as 50 gelowiges agter.
Sedert die nuus van sy dood, het kerke in Mianmar wat deur GFA gesteun word, ’n kollekte vir die bedroefde gesin opgeneem. Die plaaslike kerkleiers het die gesin gedurende hierdie moeilike tyd bygestaan en vertroos.
“Ons is verslae oor pastoor Tun se dood en ons versoek u om saam met ons te bid vir sy vrou, gesin en kerk in hierdie moeilike tyd sodat hulle God se troos, vrede en krag mag ervaar,” het dr. K.P. Yohannan, die stigter en direkteur van GFA, gesê. “Al die broers en susters op die sendingveld weet dat hulle “soos skape onder wolwe ingestuur word,” net soos Jesus gesê het. Hulle is soos pastoor Tun ook bereid om hul lewens neer te lê, om God se groot liefde met dié te deel wat nog nie die Blye Boodskap gehoor het nie.”
Pastoor Tun se ontvoering en dood is die eerste voorval van sy soort vir die GFA-bediening in Mianmar wat meer as 500 gemeentes verteenwoordig.
Bid asseblief vir:
• vertroosting, vrede en krag vir pastoor Tun se gesin en kerk
• pastoor Tun se droom dat meer mense die liefde van Christus sal leer ken
• vrede in Mianmar en vir wysheid vir sy leiers.
Foto: Pastoor Tun, saam met sy vrou en drie kinders.


Bron: gospelforasia.org.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.