-deur Brent Lindeque

 11 Julie 2018

’n Suid-Afrikaanse duiker het verlof ingesit om as vrywilliger te gaan help met die grotreddingspoging in Thailand, volgens ’n berig van Brent Lindeque op www.goodthingsguy.com

Die wêreld het ’n sug van verligting geslaak toe die 12 sokkerspelers en hulle afrigter uiteindelik na veiligheid gebring kon word nádat hulle na swaar reënbuie in oorstroomde grotte vasgekeer is.

Duikers het die 12 jong spelers en hul afrigter verlede week Maandag koud en honger in die duisternis op ’n modderige bank in ’n gedeeltelik oorstroomde grotkamer aangetref; sowat 4 kilometer in die grotte in. Verskeie lande het deelgeneem aan die gesamentlike reddingspoging.

Een van daardie duikers was ’n Suid-Afrikaner – Leandro Nicolas Gerardo – oorspronklik van Argentinië, maar wat grootgeword het in Pinetown, Suid-Afrika.

Leandro, wat tans in Bangkok woon, het van die voorval gehoor en het dadelik verlof ingesit om homself as reddingsduiker beskikbaar te stel.

Die gesertifiseerde gevorderde duiker en sy span was in beheer van grotkamer 3, ’n deel wat 2,5 km diep in die grot was met uiters gevaarlike holtes. Die span moes suurstofbottels en die draagbare met die seuns daarop aangee en help om hulle veilig tot by die volgende grotkamer te kry.

Die reddingspoging het drie dae lank geduur. Hulle het onverpoosd gewerk om op die eerste dag vier van die kinders uit te kry, vier op die derde dag en vier plus die afrigter op die laaste dag (en dit met die wete dat daar ’n groot risiko bestaan vir nog meer oorstromings).

Faithwire berig dat een van die ander duikers wat betrokke was by die redding, Ivan Karadzic, vertel het van sy groot vrees en die ernstige risiko’s wat die seuns in die gesig gestaar het, terwyl hulle deur die nou onderwatergange geswem het.

“Hulle moes noodgedwonge iets doen wat geen kind al ooit gedoen het nie,” het hy aan die BBC gesê. “Dit is geensins normaal dat kinders op die ouderdom van 11 in grotte duik nie,” het hy gesê. Die duikers moes “uiters gevaarlike” toestande trotseer in troebel water met min of sero sigbaarheid.

Hy het voortgegaan: “Ons was natuurlik baie bang dat hulle paniekerig sou raak of dat daar iets fout kan gaan met die toerusting.” Karadzic het verduidelik hoe die duikspan dus verskeie gebeurlikheidsplanne gereed gehad het vir elke moontlike probleem wat kon opduik.


Bron: joynews.co.za en goodthingsguy.com

-deur Will Maule \ Bron: faithwire.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.