-deur Donnelly McCleland

9 Augustus 2018

Plaaslike mediabronne het op Sondag 5 Augustus berig dat die Islamitiese Revolusionêre Korps  vlootoefeninge in die Seestraat van Hormuz gehou het.

Hormuz is in die Persiese Golf  en ’n belangrike seeweg vir die globale verskeping van olie.  Dit het aansienlik vroeër in die jaar plaasgevind as wat verwag is en volg op ’n reeks aggressiewe twiets tussen Iranse president, Hassan Rouhani en die Amerikaanse president, Donald Trump die afgelope maand.  Dit val ook saam met die herinstelling van ekonomiese sanksies wat op 7 Augustus in werking getree het met ’n tweede  rondte strenger sanksies wat op 4 November te wagte kan wees.  Daar is ’n bestendige toename in druk vanaf Amerika op Iran na aanleiding van Washington se verklaring in Mei dat Amerika uit die Iranse kernooreenkoms onttrek.

Sondag is berig dat Iran voornemens het om buitelandse valuta-reëls te verslap in ’n poging om ’n ineenstorting in hul geldeenheid te verhoed. Die eenheid het sedert April die helfte van sy waarde verloor weens vrees oor die sanksies. Die dalende geldeenheid en stygende inflasie het landswyd verdere protesoptogte tot gevolg gehad.

Die protesaksies oor die afgelope ses maande is relatief geïsoleer, verspreid en veel kleiner as die antiregeringsdemonstrasies wat in 2009 plaasgevind het toe miljoene die strate ingevaar het, maar dit weerspieël ’n algemene gevoel van toenemende ontevredenheid.

Aktiviste wat krities teenoor die regering is, sê egter dat Iran se leierskap nie bedreig word nie aangesien daar nie ’n verenigde leierskap of duidelike agenda is onder die protesteerders nie.

’n Aantal bronne berig dat die Kerk in Iran een van die vinnigste groeiende kerke ter wêreld is.  As gevolg van hewige vervolging is dit oorwegend ’n “ondergrondse kerk” wat bestaan uit talle individuele huiskerke. Daar is ’n  toenemende rusteloosheid onder die bevolking van Iran en die vraag is, watter uitwerking sal dit op die Kerk hê?  Sal die rusteloosheid lei tot groter vervolging of moontlike groei van die kerk?

Bid saam met ons vir Iran en die Iranse Kerk gedurende hierdie onvoorspelbare en onstabiele tye.

“Om die werk van God te doen, is gevaarlik; om dit nie te doen nie, is nog gevaarliker.” (Sabina Wurmbrand)


Bron: http://www.incontextinternational.org/

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.