-deur Katey Hearth

2 Januarie 2018

Die Nepalese polisie sê hulle het die afgelope vyf jaar meer as 7 000 mense uit die greep van mensehandel gered. Volgens amptenare was 3 896 van hulle onder 18.

Dis maar ’n druppel in die emmer. In dieselfde tydperk het die aantal mense wat oor Nepal se grense gesmokkel is, met 500 persent gestyg.

Die land se poreuse grense maak dit maklik vir mensehandelaars om bordele in Indiese stede soos Delhi en Mumbai van ’n bestendige stroom seksslawe te voorsien. UNICEF rapporteer dat 12 000 kinders elke jaar van Nepal na Indië gesmokkel word.

“Daar was baie 14- en 15-jariges. Almal is van Nepal, Bangladesj en distrikte van Indië. […] Ons is gedwing om tussen vier en vyftien kliënte per dag te bedien,” het ’n vrou gesê wat uit die sekshandelbedryf gered is.

John Puidate van Bibles for the World het gesê dat hulle aansluit by die stryd teen mensehandel. Die nuwe program help vroue om die trauma te verwerk wat hulle verduur het en om winsgewende werk te kry. Tot dusver is meer as 80 vroue ingeskryf.

Nadat hulle gered is, begin die vroue ’n rehabilitasieproses. Terwyl hulle deur die proses gaan of, sodra hulle klaar is, kan vroue begin om nuwe werksvaardighede aan te leer deur die bediening se program.

“As deel van hierdie program het hulle ook hul eie Bybelstudiegroep,” voeg Puidate by. “Ons is so geseën om 50 kopieë van die hele Bybel aan hulle te kon voorsien.”

Bid dat hierdie vroue en meisies Christus sal ontmoet. Bid vir ’n einde aan die mensehandel in Nepal.

Foto: Kay Chernush vir die Amerikaanse Staatsdepartement


Bron: mnnonline.org

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.