-deur Will Maule

5 November 2018

Brasilië se verkose president, Jair Bolsanaro, het belowe om die Suid-Amerikaanse nasie se ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif – in die voetspore van pres. Donald Trump, wat dit in Mei vanjaar gedoen het.

Die inkomende leier van Brasilië en voormalige weermagkaptein het sy planne op Twitter aangekondig: “Soos ek voorheen tydens ons veldtog gesê het, is ons van voornemens om die Brasiliaanse ambassade van Tel-Aviv na Jerusalem te verskuif. Israel is ’n soewereine staat en ons sal dit respekteer,” het hy geskryf.

Bolsonaro, ’n stoere konserwatiewe politikus, word deur sommige as die “Trump van die trope” bestempel weens sy politieke sieninge wat baie ooreenstem met die van Trump.

Israelse premier Benjamin Netanyahu was in ekstase oor die nuus. “Ek loof my vriend, die president van Brasilië, Jair Bolsonaro, vir sy voorneme om die Brasiliaanse ambassade na Jerusalem te verskuif,” het hy volgens die Times of Israel in ’n verklaring gesê. “Dit is ’n historiese stap.”

Israel beskou Jerusalem as sy hoofstad, terwyl die Palestyne aanspraak maak op Oos-Jerusalem as die hoofstad van sy toekomstige staat. Baie lede van die internasionale gemeenskap beskou die stad as neutrale grond, waar die grense tussen die twee partye onderhandel moet word as deel van ‘n sogenaamde tweestaatoplossing.

Wat ’n Palestynse ambassade in Brasilië betref, is die president baie duidelik oor sy siening. “Is Palestina ’n land? Dit is nie ’n land nie, dus moet daar geen ambassade hier wees nie,” het hy voorheen gesê.

Bolsonaro het ook wydverspreide steun gekry vir sy belofte om die korrupsie in die regering uit te roei en om Brasilië se stygende misdaadsyfer te stuit. Bolsonaro sal op 1 Januarie 2019 die amp opneem.

Foto: Buda Mendes / Getty Images


Bron: faithwire.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.