-deur Kate Shellnutt

11 Mei 2018

Drie Koreaanse Amerikaanse evangeliese Christene wat vir ten minste ’n jaar lank as gevangenes in Noord-Korea aangehou is, is nou op pad huis toe, het president Donald Trump Woensdagoggend aangekondig.

“Ek is verheug om julle in te lig dat die staatssekretaris Mike Pompeo op pad terug is uit Noord-Korea met die drie manne wat almal so graag wil ontmoet,” het die president getwiet.

Pompeo het gesê dat hy die Christelike gevangenes, Kim Dong Chul, Kim Hak Song en Kim Sang Duk tydens sy aanvanklike besoek aan Kim Jong-un, Noord-Koreaanse leier, ’n maand gelede genoem het.

Hul vrylating kom terwyl president Trump hom voorberei vir ’n historiese ontmoeting met Kim Jong-un.

Die drie Christene is tussen ’n jaar en drie jaar in Noord-Korea aangehou en twee van hulle het voorheen by ’n private universiteit in die land se hoofstad gewerk. Die Pyongyang Universiteit van Wetenskap en Tegnologie se personeel is meestal Christene wat noodgedwonge hulle geloof geheim moet hou weens die diktatorskap se streng beperkings op godsdiens.

Professore Kim Hak Song en Kim Sang Duk is verlede Mei in hegtenis geneem en aangekla van “vyandelike” dade teen die regering, dieselfde foutiewe klag wat teen die sendeling, mnr. Kenneth Bae, gelê is wat in 2014 vrygelaat is. Kim Dong Chul is in 2015 in hegtenis geneem.

Trump het gesê dat al drie gevangenes “in goeie gesondheid is”,  in teenstelling met die laaste Amerikaner wat vrygestel is – die student, Otto Warmbier, wat in ’n koma was en gesterf het kort nadat hy verlede Junie na Amerika teruggekeer het.

Byskrif: Ahn Young-joon / AP

Bron: christianitytoday.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.