-deur Stephanie Busari en Eliott C. McLaughlin / CNN

6 Junie 2018

Nigerië se weermag het 148 gyselaars uit die kloue van Boko Haram gered, die meeste van hulle vroue en kinders, het die weermag Maandag gesê.

Soldate het die gyselaars tydens ’n operasie gered nadat lede van die terreurgroep voor die troepe se aanslag in die Chad-eilande en op die rand van die noordelike grense van die Borno-staat uitgevlug het.

Die gevangenes is bevry in die groot, maar afgeleë dorp, Bama, ongeveer 45 kilometer suidoos van Maiduguri. Borno is ’n staat in die noord-ooste van Nigerië en grens aan Niger, Tsjad en Kameroen, wat almal reeds gewelddadige aanvalle van Boko Haram ervaar het.

Vyf-en-sewentig kinders, 58 vroue en 15 mans was in die groep wat gered is. Daar was twee swanger tieners onder die gyselaars.

Die vroue het aan hul redders gesê hulle is “seksueel aangerand en gebruik as seksslawe”, terwyl die mans gedwing is om arbeid te verrig, het die weermagverklaring gelui.

Die bevryde gyselaars sal na ’n Bama-kamp vir interne ontheemdesgeneem word, het die weermag gesê.

Verlede maand het die weermag 1 000 gyselaars bevry ná ’n week lange stryd met Boko Haram waartydens 50 Boko Haram-vegters gedood is.

Boko Haram-vegters woon hoofsaaklik in die gebied in die noordelike state van Nigerië, spesifiek Yobe, Kano, Bauchi, Borno en Kaduna. Die groep het sedert 2013 meer as 1 000 kinders in Nigerië ontvoer, volgens ’n onlangse verslag.


Bron: edition.cnn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.