-deur Andre Viljoen

17 Julie 2017

Godsdiensgemeenskappe moet ‘n uitnodiging van ‘n parlementêre komitee opneem om kommentaar te lewer op ‘n verslag wat die regulering van godsdiens in Suid-Afrika aanvra, sê Freedom of Religion SA (FOR SA) in ‘n dringende e-pos wat onlangs aan sy lede gestuur is.

As godsdiensleiers nie dadelik op die CRL-regtekommissie se “onnodige, onuitvoerbare en ongrondwetlike” voorstelle reageer, dat alle godsdienspraktisyns en plekke van aanbidding gelisensieer moet word nie, kan die parlement tot die slotsom kom dat die voorstel aanvaarbaar is en dit as wet aanvaar, waarsku FOR SA.

Godsdiensleiers het tot 31 Augustus om voorleggings oor die CRL se verslag oor “kommersialisering van godsdiens en misbruik van mense se geloofstelsels” aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) te maak.

FOR-SA se e-pos sê hoewel kommer gedeel word oor die kwessies wat deur die CRL uitgelig is (soos mense wat gedwing word om petrol te drink, ens.), het die CRL die stem van die Kerk geïgnoreer in die kommissie se strewe om sy agenda van staatsregulering en beheer van godsdiens in Suid-Afrika af te dwing. FOR SA sê die CRL-regtekommissie het elke voorlegging geïgnoreer wat alternatiewe, lewensvatbare en goed ondersteunde oplossings aangebied het vir elkeen van die probleme wat deur die CRL geïdentifiseer is.

Die nuwe inligting [sien hier] som FOR SA se grootste besware op, verskaf kontakbesonderhede vir die indiening van voorleggings aan die COGTA-portefeuljekomitee, en lys moontlike stappe wat geneem kan word, en verskaf ook skakels na bykomende hulpbronne.

Die CRL het sy verslag op 27 Junie in Johannesburg aan die parlementêre komitee en aan die media voorgelê.

Ná die CRL-mediavoorlegging het die SABC berig dat CRL-voorsitter, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, gesê het “die sirkus sal verby wees” en dat daar “vrede en orde” in die land sal heers as die parlement al hulle voorstelle implementeer.

Volgens Africa News Network het Mkhwanazi-Xaluva gesê meeste van die “redelike godsdiensleiers” ondersteun die CRL se verslag.

Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, wat meer as ses miljoen mense uit 277 denominasies, kerke en ander godsdiensgroepe verteenwoordig, het aan Gateway News gesê: “Ek is besig om met die senior leiers van denominasies en ander geloofsgroepe te praat. En tot nou het hulle eenparig twee dinge gesê:

  1. Hulle is nie deur die CRL in kennis gestel van die finale verslag nie, en dit is ook sonder verdere oorlegpleging na die parlement geneem.
  2. Hulle bevestig dat hulle nie met die voorstel van die CRL saamstem om godsdiens in Suid-Afrika te lisensieer (en sodoende te beheer nie) en dat hulle dit sal teenstaan. “

Hy het gesê FOR SA het verskeie kere probeer om met die CRL te vergader sedert FOR SA in Februarie ‘n voorlegging aan hulle gestuur het, maar die kommissie het geweier om met hulle te ontmoet, hoewel hulle ‘n ope vergadering in Kuilsrivier bygewoon het en FOR SA op 27 Junie in kennis gestel het van die portefeuljekomiteeverhoor.

Michael Swain het gesê hulle het die verhoor bygewoon waar die CRL ongeveer drie uur lank geneem het om hulle verslag aan te bied. FOR SA het die geleentheid gehad om kortliks sy besware te opper.

“Ons is deur die COGTA-voorsitter, Mzameni Mdakane, verseker dat ons ‘n verdere geleentheid sal kry om voorleggings aan hierdie portefeuljekomitee te lewer,” het hy gesê.

Die COGTA-parlementêre komitee het ook lede van die godsdiensgemeenskap genooi om voorleggings te maak oor die CRL-verslag.

Byskrif: Die voorsitter van die CRL, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, (FOTO: EWN)


Bron: gatewaynews.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.