-deur Jeffrey Schipper

11 Julie 2018

’n Groep Iranse Christene is onaangenaam verras tydens ’n Bybelstudie in ’n Griekse vlugtelingkamp. Hulle is gewelddadig aangeval deur ’n groep Moslems by die kamp in Koutsochero, berig The Christian Post.

“Die groep Moslems het die Christene aangeval, hulle met messe gedreig en hulle aangerand. Twee Iraniërs het in die hospitaal beland,” het 222 Ministries aan International Christian Concern (ICC) gesê. Niemand is ernstig beseer nie.

Die Griekse polisiebeamptes wat teenwoordig was, het volgens omstanders nie ingegryp nie omdat hulle in die minderheid was teenoor ’n groep Moslems van tussen dertig en veertig aanvallers.

“Wanneer ’n Moslem hom of haar tot die Christendom bekeer, waag hy of sy baie,” verduidelik Claire Evans namens die ICC. “Christene wat voorheen Moslems was, word dikwels verstoot uit hul familie en gewelddadig aangeval deur hulle eweknieë. Dikwels moet hulle uit hul huis vlug en elders ’n nuwe lewe gaan skep. Dit is geen toeval dat juis hierdie mense slagoffers van ’n gewelddadige aanval was nie.”

Die ICC bevestig dat al die slagoffers van die aanval die vlugtelingkamp verlaat het en tydelike skuiling gebied is op ’n veiliger plek. Daar is ook ’n klag by die Griekse polisie ingedien en ’n regsgeding teen die aanvallers aanhangig gemaak. Die groep Iranse Christene het van Turkye na Griekeland gevlug waar hulle in ’n vlugtelingkamp gevestig is waar die meeste mense Moslems is.

Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.