3 Februarie 2018
– Deur Arno van Niekerk

Die eerste MIGHTY FAMILIES Konferensie sal plaasvind vanaf 16-18 Maart 2018 op die plaas, Wilde Als, waar die onvergeetlike IT’S TIME-byeenkoms saam met Angus Buchan gehou is. MIGHTY FAMILIES beloof om ʼn besondere belewenis in die Here se teenwoordigheid te wees waar gesinne uit verskillende dele van die samelewing bedien word. 

Ons land beleef ʼn kommerwekkende tyd waar familiestrukture geleidelik uitmekaar val. Die hartklop van MIGHTY FAMILIES is om geleentheid te skep om genesing in gesinsverband te bring, huwelike op die rand van egskeiding te probeer red, en die harte van die kinders en hul ouers nader aan mekaar te bring, soos dit staan in Maleagi 4:6. Die klem gaan veral op diversiteit val waar almal welkom is om die geleentheid saam mee te maak, onder goeie Woord-bediening, lof- en aanbidding – gelei deur Heinz Winckler en sy vrou, Aletté-Johanni – asook geleentheid vir berading en gebed. 

Nasionaal-erkende sprekers, waaronder mans en vrouens uit verskillende rassegroepe, gaan die naweek bedien. Wie die sprekers gaan wees, gaan eers op ʼn latere stadium bevestig word. Die Visie van MIGHTY FAMILIES is om die mense van Suid-Afrika te inspireer om die klem weer terug te plaas op goeie, Bybelse gesinswaardes en die land te herbou met sterk gesinne. Vandaar ons leuse: Strong Families. Strong Nation.

Dis ʼn gebeurtenis waar Jesus sentraal staan. Ons vertrou dat die goeie saad wat met die IT’S TIME-byeenkoms geplant is, deur MIGHTY FAMILIES voortgesit sal word om nuwe hoop en visie in Suid-Afrika te bring. Gelowiges, in besonder, moet hierdeur geaktiveer word om in hul gemeenskappe ʼn positiewe verskil te maak. Ook hoop ons dat kerke hierby sal baat vind, want MIGHTY FAMILIES beklemtoon juis die belangrikheid van geestelike families en die kritiese rol wat gemeentes moet speel in die nood van ons gemeenskappe – fisies en moreel.

Die MIGHTY FAMILIES-inisiatief het uiteindelik ten doel om ʼn betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se genesing te lewer – d.w.s. tussen verskillende rassegroepe, binne gesinsverband en spesifiek in huwelike. Mag dit ʼn groot bydrae lewer tot wonderwerke wat in ons land so nodig is. Ons glo Jesus Christus is die Redder van Suid-Afrika.

Besoek die Mighty Families webtuiste vir nuwe inligting oor die byeenkoms, reëlings oor parkering, ens. www.mightyfamilies.co.za

Enige donasies vir hierdie reuse-geleentheid sal baie waardeer word en aangewend word ter voorbereiding van die geleentheid. Skenkings kan betaal word aan:

Mighty Families
Spaarrekening
Bank: Investec Bank
Rekeningnommer: 50012356298
Takkode: 580105

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.