-deur Lucilia Moleko | INcontext Ministries

11 April 2018

Die oorlog in Sirië is weer in die kollig na berigte van chemiese aanvalle deur Siriese magte in Douma, ʼn voorstad van Damaskus, kort nadat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het dat hy Amerikaanse troepe uit Sirië wil onttrek, in lyn met sy “Amerika Eerste-beleid”. Die aanval is dadelik deur die Verenigde State en die Europese Unie veroordeel, maar Bashar Al-Assad (Sirië se president) en sy bondgenote in Rusland en Iran het die bewerings van ʼn chemiese aanval ontken en die Islamitiese rebellegroep wat die voorstad, Douma, beheer daarvan beskuldig dat hulle beeldmateriaal fabriseer om internasionale ondersteuning te kry, aangesien hulle ʼn nederlaag in die gesig gestaar.

Reddingswerkers het berig dat minstens 85 mense op Saterdag 7 April gesterf het a.g.v. die chemiese aanval. Die Siriese Amerikaanse Mediese Vereniging het in ʼn gesamentlike verslag gesê dat meer as 500 mense na die aanval na die mediese sentrums gegaan het, “met simptome wat dui op die blootstelling aan ʼn chemiese stof”.

Baie vrees dat Mnr. Trump se plan om Amerikaanse troepe uit Sirië te onttrek, kan lei tot meer verwoesting in sommige dele van die land. Bid asseblief saam met ons vir Sirië – vir almal wat ly, vir wysheid vir al die betrokke leiers, en dat die waarheid reg en regverdig gekommunikeer word in die media en elders.

“Ek weet dat die Here altyd aan die regte kant is; maar ek is deurgaans besorgd , en dis my voortdurende gebed, dat ek en hierdie nasie aan die Here se kant is.” – Abraham Lincoln


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.