-deur Wendy Griffith

12 Januarie 2018

In Kanada plaas LGBTQ-voorstanders druk op openbare skole om ‘n radikale seksvoorligtingskurrikulum te gebruik. Baie ouers vrees dat dit hulle kinders sal verwar en selfs breinspoel. Ondersteuners van die kurrikulum voer aan dat die program die studente toelaat om hulle  “ware self” te wees.

Die program word Sexual Orientation and Gender Identification, of SOGI genoem, ’n kurrikulum wat skoolkinders in Kanada leer om die homoseksuele lewenstyl te aanvaar en dat gender veranderlik is. Met ander woorde, jou geslag is nie afhanklik van die geslagsdele waarmee jy gebore is nie, maar eerder van wat jy voel jou gender in daardie oomblik is.

’n Onderwyseres in Kanada het vir haar klassie gesê: “Daar is mense wat seuns is, daar is mense wat meisies is, daar is mense wie se geslag dalk ‘n bietjie van beide kan wees of dalk nie een van die twee nie.”

Lesse sluit boeke oor transgenderkinders in, soos 10, 000 Dresses en liedjies soos “The Rainbow Song”, met die woorde: “”Gender won’t decide the choices we make. Some boys like dressing up; some girls like catching snakes.”

Die SOGI-kurrikulum word vanaf 2016 in Brittanje gebruik en versprei vinnig in Kanada. “Wie het besluit dit is goed om dít vir ons kinders te leer?” sê Laura-Lynn Tyler Thompson, ‘n teenstander van SOGI. Tyler Thompson, ‘n skrywer en motiveringspreker, sê onder meer dat SOGI selfs kleuters vertel dat hulle ‘n ander geslag kan wees as die een wat hulle nou is. “En ons sien die negatiewe gevolge daarvan omdat sommige kinders baie emosioneel reageer en bang is dat hulle skielik sal voel hulle is ‘n ander gender as wat hulle liggaam aandui,” het Tyler Thompson gesê.

Kari Simpson van Culture Guard – nog ‘n teenstander – noem die kurrikulum niks minder as kindermishandeling nie. “Al die mooi eienskappe wat dogtertjies meisies en vroue maak, word basies beklad. Dít wat ons seuns, jong mans maak, word van hulle af weggeneem sodat dit iets boos word om jong mans met sterk beskermers te vereenselwig,” het Simpson gesê.

“Om ons kultuur van ‘n heteronormatiewe samelewing te verander tot een waar enigiets aanvaarbaar is, sonder grense, waardes en sedes skep basies ‘n hedonistiese kultus,” het sy gesê.

Nog ‘n voorbeeld hiervan is “Drag Queen Story Hour”, waar sommige openbare skole en biblioteke fopdossers uitnooi om vir jong kinders voor  te lees.

“Dit is ‘n agenda vir sosiale dekonstruksie, hulle gebruik 5-jariges om dit te bereik en hulle dan groot te maak om radikale vegters vir sosiale “regte” te word, maar ouers is besig om wakker te skrik en ʼn stokkie daarvoor te steek,” sê sy.

“Dit is skrikaanjaend,” het pastoor Kevin Cavanaugh van Cedar Grove Church in Surrey gesê. “Ons probleem is nie die onderwysers, die opvoeders, of die administrateurs nie. Daar woed ‘n geestelike stryd in die hemele en satan probeer mense se siele vernietig,” het hy gesê. Cavanaugh sê die duiwel val die kwesbaarste teikens aan – die kinders.

“Daar was ʼn dogtertjie wat in trane by die huis aangekom het omdat die onderwyser gesê het dat sy waarskynlik ʼn seun in ʼn dogtertjie sy liggaam is omdat sy met speelgoed in die klas gespeel het wat as manlik beskou word,” het Cavanaugh gesê. Sy het gehuil: “Mamma, ek wil nie ‘n seuntjie wees nie!” Die ma het die volgende dag na die skool gegaan om die kwessie te bespreek, maar in plaas van verdraagsaamheid of begrip te ontvang, is sy as homofobies en eng uitgekryt,” het hy gesê.

Die stryd tussen ‘n aggressiewe homoseksuele agenda en die geloofsgemeenskap in Kanada is ver van verby, maar baie Christen-leiers sê dit kan die vonk wees wat ‘n slapende kerk wakker skud ​​en hulle stem te laat hoor.

http://www1.cbn.com/cbnnews/

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.