21 Maart 2019

‘Laat ons as Christene nie in haat of woede reageer nie,’ het ’n Nederlandse leraar oor die terreuraanval in Utrecht, Nederland gesê.

Drie mense is dood en vyf gewond nadat ’n aanvaller op hulle losgebrand het by ’n tremstasie in Utrecht, Nederland. Die 37-jarige Gokmen Tanis, wat in Turkye gebore is, word vir die aanval gesoek.

Ben Kroeske, van die River Amsterdam-kerk, het met ’n Facebook-video op die aanval gereageer. Hy erken dat terreur nou nader aan die huis is en dat baie mense gespanne en bang voel, maar hy het Christene aangespoor om nie in haat of met woede te vergeld nie.

“Ons besef nie watter seën dit is dat ons in Nederland in vrede met mekaar kan saamleef nie. As ons nie versigtig is nie, kan so ’n gewelddadige, maar relatief klein gebeurtenis ’n baie groot uitwerking hê. Dit kan mense in vrees, haat of paniek vasvang en vergelding tot gevolg hê.”

“Ons moet glo dat God se plan goed is. Dit is nou tyd om op te staan ​as die Kerk en Sy lig te laat skyn. Ons moet wakker word as die Kerk. Jesus sê dat ’n huis wat verdeel is, nie kan staande bly nie. Dit is nie nou die tyd om onderlinge Facebook-gevegte te begin nie. Ons moet saamwerk, want die oes is ryp. Dit sal nie lank wees voordat Jesus terugkom nie. Ons moet die tyd wat ons nog oor het, so goed moontlik gebruik.”

Kroeske sê dat hy Jesaja 60:1-3 op die hart het. Dit gaan daaroor dat ons moet opstaan ​​en die lig wees, want die duisternis sal die aarde bedek, maar God se heerlikheid sal oor die Kerk kom. “Ek glo nie dat die aarde noodwendig beter sal word nie, maar dat die Kerk ’n groot lig sal wees.”

“Wat jy sien, is dat mense beangs en paniekerig is, maar die Kerk het altyd die antwoord. Jesus is die Prins van Vrede. En soms is jy so gewoond aan daardie vrede dat jy vergeet hoe dit is vir al die mense in die wêreld wat nie vrede het nie. Daarom moet ons in sulke tye opstaan.

“Jesus het ook gesê: ‘Wees barmhartig, net soos jou Vader in die hemel.’ So ’n skietery in Utrecht kan baie woede ontketen, maar selfs dan moet ons vurige kole op ons vyande se hoofde hoop en in vrede met hulle omgaan.”

“Polarisasie is aan die toeneem, ook binne die kerk. Hoe dinge in ’n land gaan, is dikwels ook ’n weerspieëling van hoe dinge binne die kerk gaan. As die Kerk verenig met een missie – om hierdie land te oorstroom met die heerlikheid van God, sal dit ’n uitwerking hê op die nasie.”


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.