-deur Donnelly McCleland

 

7 November 2018

Honderde Egiptiese Christene het Saterdag 3 November ’n begrafnisdiens in die Minya-provinsie bygewoon.  Op 2 November is pelgrims  wat met busse vervoer is na ’n afgeleë woestynkerk in ’n hinderlaag  gelei en is deur vegters van die Islamitiese Staat (IS) vermoor. Minstens 19 mense, insluitend kinders, is in Vrydag se aanval gewond en sewe is gedood.

Die Islamitiese Staat het herhaaldelik belowe om hom te wreek op die Egiptiese Christene as straf vir hul ondersteuning van president Abdel-Fattah el-Sisi. Mnr. Sisi het as minister van verdediging die weermag in 2013 gelei om van die Islamitiese president, Mohammed Morsi ontslae te raak, ná die een jaar wat hy aan bewind was en wat net verdeeldheid veroorsaak het.

IS het ook verantwoordelikheid aanvaar vir die reeks dodelike aanvalle op Christene wat vanaf Desember 2016 geloods is. In Mei 2017 is 29 mense in ’n soortgelyke aanval naby dieselfde kerk dood. In die nadraai van Vrydag se aanval het pres. Sisi belowe om die stryd teen terrorisme voort te sit. Volgens ’n verklaring wat op Sondag 4 November uitgereik is, het die Egiptiese veiligheidsmagte 19 gedood wat betrokke was by Vrydag se dodelike aanval.

In dié Moslem-dominante land maak die Egiptiese Kopte die meerderheid uit van die Christelike minderheid (sowat 10%), en het op soortgelyke wyse as in die verlede op die aanval gereageer – met woede en frustrasie, maar meestal vergifnis.

“Ons wil vir hulle [die aanvallers] sê dat ons hulle nog steeds liefhet, ten spyte van wat gebeur het. Ons vra egter dié vraag, waarom doen julle dit aan ons? Ons is nie kwaadwillig teenoor enigiemand nie,” het Rad Noseer Mitri, priester van Mar Girgis Kerk, aan rouklaers gesê. Egipte se Koptiese Christene is vanjaar vir die Nobelprys vir Vrede oorweeg, weens hul versoenende houding teenoor hul aanvallers.

Bid asseblief saam met ons vir ons Egiptiese broers en susters in Christus, en vir die Egiptiese owerhede se reaksie op die aanvalle teen Christene.

“Ons gebede moet gedryf en nagestreef word met energie wat nooit sal moeg word nie, ’n vasberadenheid wat nie ontken sal word nie, en moed wat nooit sal misluk nie.” (E.M. Bounds)


Bron: incontextministriesinternational.org

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.