-deur Harry Farley

26 Februarie 2018

Die koningin van Engeland het haar medelye met die evangelis Billy Graham se familie uitgespreek nadat hy verlede week op die ouderdom van 99 jaar oorlede is.

Sy het die prediker verskeie kere ontmoet tydens sy reise na die Verenigde Koninkryk en Buckingham Paleis het bevestig sy sal ‘n persoonlike boodskap aan Graham se familie, insluitend sy seun, Franklin Graham, stuur.

Die koningin het glo ‘n diep persoonlike geloof en het Graham verskeie kere ontmoet. Graham het tydens sy eerste evangelisasieveldtog in die Verenigde Koninkryk vir 12 weke deur die land getoer en meer as 2 miljoen mense bereik. Nadat hy die koningin persoonlik ontmoet het, is Graham genooi om ‘n aantal kere in die koningin se privaat kapel te preek, insluitend op Paassondag in 1995. Hy het in 2001 selfs ‘n ere-ridderskap ontvang.

Die koninklike familie sluit aan by pres. Donald Trump, Barack Obama en ander voormalige Amerikaanse presidente om hulde te bring aan die evangelis, wat as die invloedrykste prediker in die 20ste eeu beskou word.

“Dr. Billy Graham het ​as ‘n voorbeeld gedien vir geslag op geslag moderne Christene. Wanneer dit kom by ‘n lewende en blywende invloed op die wêreldwye kerk, het hy min gelyke, want hy het die een mens na die ander aan Jesus Christus bekendgestel. Daar is ontelbare mense wat hulle geloofsreis begin het danksy dr. Graham,” het die aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby, gesê.

“Hy is iemand wat presidente en predikers, koninklikes en musikante ontmoet het; die armes en die rykes, jonk en oud, van aangesig tot aangesig bedien het. Nou is hy het hy Jesus Christus, sy redder, van aangesig tot aangesig ontmoet. Dit is die ontmoeting waarna hy lewenslank uitgesien het.”

Trump en vise-president Mike Pence, saam met Barack Obama, Bill Clinton, George W. Bush en Jimmy Carter, sal Graham se begrafnis op 2 Maart in sy tuisdorp Charlotte, Noord-Carolina, bywoon.

Die begrafnisdiens sal privaat wees en sal familielede, vriende en gemeenskapsleiers insluit wat deur Graham se bediening geraak is, tesame met sowat 2 300 mense wat die diens sal bywoon.

Sy seun, Franklin Graham, sal die huldigingswoord bring en sy ander kinders sal kortliks ʼn huldeblyk aan hulle pa lewer.


Bron: christiantoday.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.