-deur Lourieke Haller

18 Mei 2018

’n Interessante gebedsreis word beplan deur Die Khoi Heritage Foundation – First Peoples Group of Southern Africa (KHF).

’n Groep lede van die Khoi Heritage Foundation (KHF) gaan van 22 September tot die 5de Oktober vanaf Strand in die Kaap vertrek op hulle gebedsreis na Musina en terug.

Die Christelike groep beywer hom vir die herstel en mobilisering van die Khoi van Suid-Afrika. Op die Facebook-blad van die groep is die volgende plasing wat die hart van die beweging opsom: “This people that I formed for Myself; they shall declare My praise.” – Isaiah 43:21 This is for our Khoi people and God has a prophetic end-time plan for the Coloured people (Khoi) of Southern Africa.

Die gebedsreis se tema is “Unlocking the Treasures”.  Die reis sal die ontsluiting van die geestelike, menslike en aardse skatte behels.

Mnr. Phillip Jackson, woordvoerder vir Khoi Heritage Foundation verduidelik: “Toe ons in 2012 op ’n soortgelyke gebedsreis deur die Noordwes-Provinsie gery het, het ons bewus geword van verborge skatte in Suid-Afrika wat God wil openbaar. In 2 Korintiërs 4:7 lees ons ons het hierdie skat in erde kruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In die daaropvolgende jare het baie gebede uitgegaan vanaf die KHF en ander gebedsnetwerke. Ons wou verstaan wat die Gees aan ons wil oordra d.m.v. die Woord van die Here. Dit het al duideliker geword wat die opdrag is.”

Die groep glo dat die mandaat wat die Khoi reeds in 1737 ontvang is, toe ’n Morawiese sendeling in die Kaapkolonie aangekom het. Hy het in Genadendal evangelisasiewerk onder die Khoi begin in gehoorsaamheid aan God se spesifieke opdrag aan Hom om “die staf van intersessie en die mantel van gebedsevangelisasie te oorhandig.

“Ons het hierdie skat, wat vir jare in ’n erdekruik toegehou is, oopgemaak en die staf van intersessie en die mantel van evangelisasie weer opgeneem,” verklaar die KHF se inligtingstuk.

Tydens hulle reis sal hulle aandoen in Oudtshoorn, Richmond, Bloemfontein, Pretoria, Rustenburg, Musina, Kimberley, Beaufort-Wes en Laingsburg. Belangstellendes is welkom om pastoor Ayjay Jantjies by ayjay.jantjies@yahoo.com te kontak of mnr. Phillip Jackson te skakel by 083 783 1570

Die groep van 62 benodig nog verblyf in die dorpe in die noorde, Pretoria, Rustenburg en Musina. Kontak mnr. Jackson of pastoor Jantjies indien jy hulle hierin kan bystaan.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.