-deur Eryn Dion

13 Julie 2017

Panama City-strand – Dit was veronderstel om net ‘n vinnige uitstappie na die strand te wees, maar dit het amper in ‘n tragedie geëindig vir Roberta Ursrey en haar gesin.

Ursrey en haar man, ma, neefs en seuns het die son en die see geniet. Ursrey het pas uit die see gekom, maar toe sy omdraai om na haar seuns te soek, het sy gemerk dat hulle baie verder van die strand af was as wat sy gedink het hulle sou wees…toe hoor sy hulle gille.

Ursrey en die res van haar gesin het na die seuns toe geswem, maar die seestroom was baie sterker as wat hulle besef het. Ten spyte van hulle beste pogings, was hulle ook spoedig in die moeilikheid. Daar was nege mense in gevaar, insluitende haar ma, wat tydens die beproewing ‘n hartaanval gekry en byna gesterf het.

“Ek het gedink ek gaan my hele gesin vandag verloor,” het Ursrey gesê. Dit kon die geval gewees het as Jessica Simmons en haar man nie op die ingewing van die oomblik besluit het om middagete by die strand te gaan nuttig nie; of as sy nie gou gestop het om ʼn ou lyfbord (boogie board) by ʼn asdrom op te tel en vir haar kleinkinders te hou wanneer hulle haar weer kom besoek nie.

Simmons wat op die sand gesit het, het besef almal wys na iets in die water. “Ek het eers gedink hulle sien ʼn haai,” het Simmons gesê. “My man het na die mense toe gehardloop…Dit is toe dat ek besef iemand is besig om te verdrink. ”

Simmons is nie die soort mens wat sal bystaan wanneer iemand in nood verkeer nie. Toe sy Ursrey se gesin in die moeilikheid sien, het sy die lyfbord gegryp en haar weg na hulle toe begin baan terwyl haar man en ‘n paar ander mans ‘n ketting van mense begin vorm het om die swemmers terug te bring na die veiligheid van die strand.

Terwyl Simmons op die lyfbord uitgeswem het, het die menseketting gegroei, met 80 mense wat meer as 100 meter ver na die swemmers uitgereik het. Party van die mense kon nie swem nie, het Simmons gesê, maar wou help en in die vlakwater gestaan. Ander het tot by hul nekke in die water gestaan ​​en wag vir Simmons sodat hulle die swemmers na die strand kon help.

“Wat Simmons aangetref het, was skokkend. Ursrey se ma was uitgeput, haar oë het teruggerol en Simmons onthou dat die vrou baie water gesluk het. “Sy het ons beveel om haar net te laat gaan en onsself te red,” vertel Simmons.

Almal was uitgeput en die branders het oor hulle gebreek. Een vir een, met die kinders eerste, het Simmons en haar man, saam met ‘n paar ander redders, die swemmers na die menseketting gehelp, wat hulle dan verder tot op die strand gehelp het.

“Dit was merkwaardig om te sien,” het Simmons gesê. “Hierdie mense het mekaar nie eens geken nie, maar hulle het mekaar vertrou om almal in veiligheid te kry.”

Ursrey onthou nie hoe sy gered is nie, net dat sy op die strand bygekom het. Haar ma het in die ambulans ʼn hartstilstand gehad, maar is bygebring en is nog in die hospitaal. Haar neef het ‘n gebreekte hand, maar andersins het almal van hulle beproewing herstel.

“Ek is so dankbaar,” het Ursrey gesê. “Hierdie mense was God se engele wat op die regte tyd op die regte plek was. Ek het my lewe en my gesin se lewe te danke aan hulle. Sonder hulle sou ons nie hier gewees het nie. ”

Simmons het gesê dit gaan nie oor wat sy gedoen het nie, maar oor almal wat ingespring het om te help. “Dit is so wonderlik om te sien hoewel ons teen so ‘n vinnige pas leef, ons tog iemand te hulp kan snel wanneer hulle dit nodig het, almal het hande gevat en gehelp,” het Simmons gesê. “Dit was regtig inspirerend om dit te sien. Met alles wat in die wêreld aangaan, het ons steeds menslikheid,” het sy bygevoeg.

Byskrif:  Foto: Die Panama City News Herald


Bron: www.nwfdailynews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.