2 Februarie 2019

Die waghond vir Godsdiensvryheid, Freedom of Religion South Africa (FOR SA) waarsku dat die Kerk en Suid-Afrika die “ernstigste bedreiging vir godsdiensvryheid tot op hede” in die gesig staar, in die vorm van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige gemeenskappe  (KGT-regskommissie) se nuutste bod vir die regulering van godsdiens in die land.

Die uitvoerende direkteur van FOR SA, Michael Swain, wil Christen-leiers bewus maak van ’n nasionale konferensie wat deur die KGT gereël is vir 25 tot 26 Februarie. “Die doelwit sal weer eens wees om die godsdiensgemeenskap se steun te wen vir ’n wet wat die beoefening van godsdiens in Suid-Afrika sal reguleer.”

FOR SA was baie suksesvol was om Christelike teenstand teen die KGT se poging vir staatsregulering van godsdiens te mobiliseer en die KGT-voorstel is in Februarie verlede jaar ná ‘n uitgebreide demokratiese proses deur COGTA (Cooperative Governance and Traditional Affairs) verwerp. FOR SA het egter verskeie kere gewaarsku dat die KGT steeds aktief besig is om steun vir sy voorgestelde regulering van godsdiens te werk in staatsdepartemente.

Swain spoor godsdiensorganisasies aan om spoedig ’n hoëvlakverteenwoordiger te nomineer wat die nasionale konferensie (NCC) in Pretoria kan bywoon wat verlede Sondag in die pers deur die KGT geadverteer is (sien kennisgewing onderaan die bladsy).

“Dit blyk dat daar beperkte plek is en dit kan potensieel rampspoedig wees as organisasies wat gekant is teen die regulering van godsdiens as gevolg van beperkte plek uitgesluit word by die konferensie. Die sperdatum vir nominasies is 8 Februarie, maar ons beveel aan dat u dit binne die volgende dag stuur,” sê FOR SA.

Dit sê nominasies moet per e-pos aan ncc@crlrightscommission.org.za gestuur word en Obed@crlcommission.org.za moet ook by die e-pos ingesluit word.

FOR SA moedig betrokke organisasies aan om voor te berei vir die NCC deur die nasionale beraad vir godsdiens- en kerkleiers by die Rhema Kerk (Hans Schoemanstraat, Randburg) by te woon om 13:00 op 13 Februarie. Die KGT het pastoor Ray McCauley (in sy hoedanigheid as voorsitter van die Nasionale Raad vir Godsdiensleiers) gevra om die beraad te belê.

FOR SA sê organisasies moet aandui dat hulle beplan om die beraad by te woon, deur ’n e-pos aan Giet Khosa by gietk@rhema.co.za en aan lorraineg@rhema.co.za  te stuur.

Bron: forsa.org.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.