-deur World Israel News

 12 September 2017

Die Israel-gebaseerde soek- en reddingsorganisasie, ZAKA, het ‘n reddingsoperasie in St. Martin uitgevoer terwyl orkaan Irma gewoed het.

ZAKA-vrywilligers, saam met verteenwoordigers van Israel, New York en Holland, het kragte saamgespan in ‘n multi-nasionale WhatsApp-reddingsoperasie. Hulle sending: Om die vrou en kinders van rabbi Moishe Chanowits, ʼn afgesant van ʼn Joodse uitreikorganisasie te red, wat in verraderlike toestande op die Karibiese eiland, St. Martin, gestrand was.

Rabbi Chanowits, sy vrou Sara en hulle vyf kinders, onder die ouderdom van agt, het op die eiland agtergebly om tydens die orkaan bystand aan ander te verleen. Toe die windspoed egter gevaarlik toeneem, het die familie hulle huis verlaat om in Chabad House, die organisasie se hoofkwartier, te gaan skuil, maar dít was ook nie ‘n veilige hawe nie.

Die rabbi het World Chabad in New York en die ZAKA se soek- en reddingspan gekontak en versoek dat sy gesin onmiddellik ontruim moet word van die eiland waarheen die see- en lugroetes gesluit is.

‘n Toegewyde WhatsApp-groep is gestig om die trans-Atlantiese reddingspoging te fasiliteer. Na ʼn soektog vir ‘n privaat vliegtuig om hulle te red, het Rabbi Isaac Lieder ‘n agt-sitplekvliegtuig gevind wat bereid was om te vlieg, maar die Nederlandse owerhede in St. Martin het egter toestemming geweier vir die vliegtuig om daar te land.

“In ZAKA gee ons nooit op nie,” verduidelik ZAKA-voorsitter, Yehuda Meshi-Zahav. Ná baie ure van internasionale gesprekke is daar uiteindelik kontak gemaak met ʼn vlieënier wat humanitêre hulp na die gebied sou neem. Hy het ingestem om die gestrande familie op te pik; Sara en die vyf kinders is na Puerto Rico gevlieg. Die Chabad-gesant het besluit om op die eiland agter te bly en hulp aan ander te verleen.

‘n Paar uur later het ZAKA nog ‘n noodoproep ontvang – hierdie keer van ‘n groep Joodse toeriste, insluitend mediese studente, van Amerika en Kanada wat op die eiland gestrand was en skuiling in St. Martin se mediese skool gesoek het. ‘n Amerikaanse vliegtuig wat humanitêre hulp na die eiland neem, is gekontak en dié groep is ook gered.

Byskrif: St. Martin, 9 September 2017. (AP / Amandine Ascensio)


Bron: ZAKA en worldisraelnews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.