-deur Emily Jones | CBN

10 Mei 2018

Iranse magte in Sirië het verskeie missiele na Israel se Golan-hoogtes afgevuur. Dit wakker die vrees aan dat die twee lande op die randjie van ’n oorlog staan.

Israel se weermag sê dat dit “sommige” van die inkomende vuurpyle onderskep het. Die projektiele het minimale skade aangerig en daar was geen slagoffers nie.

Lt. kol. Jonathan Conricus sê Israel beskou die voorval in ’n ernstige lig. Israel het in reaksie daarop verskeie vuurpyle na Sirië afgevuur.

Die konflik volg op pres. Donald Trump se aankondiging op Dinsdag dat Amerika hom uit die omstrede Iranse kernooreenkoms gaan onttrek.

Die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, wat Iran verlede week beskuldig het dat hy oor sy kernwapenprogram gejok het, het Trump vir sy “dapper besluit” geloof. “Die ooreenkoms sou Iran toegelaat het om genoeg uraan bymekaar te maak om ’n hele arsenaal  kernbomme mee te verryk,” het hy gesê.

Iran het egter in woede op die besluit gereageer en van die Iranse burgers het  ‘Death to America’ gejou terwyl hulle die Amerikaanse vlag verbrand het.

Talle leiers is bekommerd dat Israel op pad is na ‘n volskaalse oorlog met die Islamitiese regime. CBN News se hoof van die Buro vir die Midde-Ooste, mnr. Chris Mitchell, sê ’n oorlog is reeds aan die gang. “Hulle is eintlik reeds besig om oorlog te maak. Dit is nou nog ‘n lae graadse oorlog. Israel het die afgelope paar weke verskeie Iranse teikens in Sirië geteiken,” het Mitchell gesê.

Israel het Iranse teikens in Sirië geteiken skaars ure nadat Trump die Verenigde State se onttrekking uit die kernooreenkoms aangekondig het.

Mitchell sê Iran het probeer om die magsvakuum in Sirië te vul en militêre basisse daar te vestig. Die regime het hom egter vasgeloop in ‘’ “vasberade Israel” wat alles in sy vermoë doen om te verseker dat Iran nie militêre vastrapplek kry in die naburige nasie nie. “Hy wil nie ’n Iranse militêre basis op sy noordelike grens hê nie, daarom hoor jy verslae van Israelse vliegtuie wat Iranse vuurpylbasisse in  Sirië teiken,” het hy gesê.

Intussen het Israel ’n paar onwaarskynlike vriende soos Saoedi-Arabië, Egipte en die Golfstate aan sy kant.

“Daar is ‘n ondergrondse, onuitgesproke verhouding tussen die Joodse staat en hierdie Soenni-nasies. Hulle beskou hulleself as ’n verenigde front teen Iran wat die Midde-Ooste wil oorheers,” verduidelik Mitchell.

Of daar nou ‘n volskaalse oorlog tussen Iran en Israel sal wees, sal nog gesien word, maar Chris Mitchell sê een ding is seker –  Amerika het ’n sterk boodskap aan almal in die streek gestuur dat die hom by Israel skaar.


Bron: cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.