-deur INcontext

9 November 2017

Libanon se eerste minister Saad Hariri het op Saterdag 4 November onverwags bedank tydens ʼn reis na Saoedi-Arabië. Hy het gesê sy lewe word bedreig. Sy skielike bedanking skep ’n leierskapsvakuum in ’n land wat reeds polities verdeeld is. Hy het Iran daarvan beskuldig dat hulle inmeng in die streek en “verwoesting en chaos” veroorsaak. Hy het verder gesê: “Iran beheer die streek en die besluitneming in beide Sirië en Irak. Ek wil vir Iran en sy volgelinge sê hulle gaan verloor met hulle ingryping in die binnelandse sake van Arabiese lande.”

Iran het hierdie bewerings ontken. Ander in die streek meen dat die Saoedi’s, mnr. Hariri se beskermhere, sy bedanking georkestreer het om Hisbolla te isoleer deur Libanon se nasionale eenheidsregering in duie te laat stort wat beide Hisbolla en mnr. Hariri se Soenni-faksie insluit.

Daar is toenemende vrese dat Libanon net nog ’n slagveld kan word vir die toenemende wedywering tussen Saoedi-Arabië en Iran, soos wat die oorloggeteisterde Sirië die afgelope jare is. Hierdie klein, maar strategiese Mediterreense land sal ekonomiese ineenstorting of selfs konflik in die gesig staar as daar nie spoedig ’n oplossing vir die huidige krisis gevind word nie.

Libanon is tans gasheer vir ongeveer 1,5 miljoen Siriese vlugtelinge wat nou saam met die 5 miljoen Libanese ’n onsekere toekoms in die gesig staar.

Bid asseblief saam met ons vir Libanon.

God is die enigste Een wat die Akorlaagte* ’n poort na ’n nuwe toekoms kan maak.” (uit Hosea 2:14) *Akor beteken “die dood bring”


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.