-deur Lucilia Moleko en Donnelly McCleland | INcontext Ministries

10 Mei 2018

Botsings tussen Indiese magte en betogers op 6 Mei, in Shopian (in die hoogs betwiste Kasjmir-streek) het die lewens van vyf mense geëis en meer as 50 ongevalle tot gevolg gehad. Die voortdurende konflik in die streek sluit ’n toename in rebelle-aanvalle en herhaalde openbare protes teen Indiese bewind in. Daar is ’n toename in voorvalle van ’n nuwe generasie jong Kasjmir-rebelle, wat Indiese troepe met klippe bestook en eis dat Kasjmir deel van Pakistan of ’n onafhanklike land word. Die jare van opstand teen Indiese heerskappy het gelei tot die dood van 70 000 mense sedert 1989.

Elders in Indië het etniese en godsdienstige druk verhoog oor die ontstellende toename in verkragtingsgevalle. ’n Geraamde 40 000 gevalle is aangemeld sedert 2016 wat ook tot die woedende protesoptrede gelei het. Die oudstes in dorpe het geen regsgesag in die land nie, maar oefen ’n beduidende gemeenskapsinvloed uit, veral in landelike gebiede. Dit is veral in hierdie landelike gebiede dat hulle daarvan beskuldig word dat hulle onwettige opdragte toestaan en met bewyse peuter. Indië se hiërargiese, patriargale en toenemend gepolariseerde samelewing, saam met ’n verwronge wanbalans tussen mans en vroue (hoofsaaklik weens onwettige aborsies a.g.v. die geslag van die baba) word as belangrike bydraende faktore vir hierdie samelewingskrisis beskou. Verkragting word as ’n maginstrument gebruik en om die magteloses in Indië, soos die etniese en godsdienstige minderhede, mee te intimideer.

Eerste minister Narendra Modi het getwiet dat “reg sal geskied” aan die “dogters” van Indië. Maar vir baie is sy woorde leeg aangesien wetgewers, wat aan sy eie regerende BJP-party behoort, van verkragting beskuldig word en dat hulle mans ondersteun wat van verkragting beskuldig word. Daar word glo slegs teen oortreders opgetree wanneer daar wydverspreide veroordeling van hulle gedrag is. Beloftes om verkragtingswette te hersien en op te knap, is grootliks onbevredigend.

Bid asseblief saam met ons vir Indië gedurende hierdie tragiese, uitdagende tye.

“Die stryd om Christus se Koninkryk word bevorder deur gebed, nie met krag nie. Ons behaal ons grootste oorwinnings op ons knieë.” (John Piper)

Saam in Sy diens

Lucilia Moleko en Donnelly McCleland


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.