-deur Errol Naidoo

5 Februarie 2019

Getuienis voor die ondersoek na staatskaping het die volle omvang van die korrupsie blootgelê wat versprei het na byna elke staatsinstelling tydens die rampspoedige Jacob Zuma-bewind.

Die ondersoek van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sowel as die Openbare Beleggingskorporasie (OBK)-ondersoek wat tans aan die gang is, het die sluier gelig oor die massiewe korrupsie, bedrog en openbare wanadministrasie wat deur die regerende party toegelaat is.

Die voormalige uitvoerende hoof van Bosasa, Angelo Agrizzi, se getuienis in die besonder, het blykbaar verskeie nuwe getuies aangespoor om uit die skaduwee na vore te kom en senior ANC-amptenare aan die kaak te stel wat betrokke was by die bandelose plundering van openbare geld.

Daar is tans soveel aan die gebeur in Suid-Afrika dat media-agentskappe skaars kan voorbly. Dit is duidelik dat die staat sedert 2009 deur Jacob Zuma en kie gekaap is.

Dit lyk egter asof 2019 die jaar van onthullings en onwillige verantwoordbaarheid gaan wees. President Cyril Ramaphosa se pogings om die moeras droog te lê, lewer verrassende resultate. Die hele OBK-raad het bedank ná verdoemende onthullings van twyfelagtige staatspensioenfondsbeleggings. Die ondersoek na die plundering van VBS Bank is ook in volle swang. Verskeie ANC- en EFF-amptenare word hierby betrek. Hopelik sal die beslissing bekend gemaak word voor die algemene verkiesing.

Nog slegte nuus vir korrupte staatsamptenare is die feit dat die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, die leisels oorgeneem het by die voormalige gekaapte en gediskrediteerde NVG.

As gevolg van die regeringskorrupsie het honderde politieke partye geregistreer om aan die komende algemene verkiesings deel te neem in ’n poging om die agteruitgang te stuit en om te keer. Daar sal 583 politieke partye meeding vir jou stem. Dit is opwindend dat daar aanduidings is dat prominente Christen-leiers kiesers nuwe en opwindende keuses sal bied. Dit is jou verantwoordelikheid om vir hulle te stem.

Die ekonoom en skrywer, dr. Arno Van Niekerk, raadpleeg tans kiesers landwyd om ’n duidelike prentjie te skep van hul visie vir ’n stabiele, verenigde, veilige en voorspoedige Suid-Afrika vir alle burgers.

Ek het die leiers en kandidate van die waardes-gebaseerde politieke partye wat aan die verkiesing gaan deelneem, genooi om hul visie, beleid en waardes op my televisie- en radioprogramme met ons te deel.

Ek word oorval met versoeke vir insig oor die politieke landskap. Daarom sal ek oor die volgende paar maande fokus op die verskaffing van korrekte en akkurate inligting oor die beleid en standpunte van die verskillende politieke partye sodat kiesers ingeligte besluite kan maak.

Ek sal ook die veldtog: “Value Your Vote – Vote Your Values” op sosiale media begin om kiesers aan te moedig om te stem volgens hul Bybelse oortuigings.

Die positiewe ontwikkelinge in die ondersoeke oor korrupsie, en die wye verskeidenheid keuses vir kiesers in die 2019 verkiesing, kan ’n aanduiding wees wat Suid-Afrika besig is om ’n ommekeer te maak.

Bid asseblief dat God se wil in Suid-Afrika sal geskied. Maak ook seker dat jy goed ingelig is oor die politieke keuses wat aangebied word. Maak seker dat jou stem tel vir jou geloof, jou gesin en vir godsdiensvryheid.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.