-deur INcontext Ministries

14 September 2017

Inwoners van die Karibiese eilande het Sondag (10 September) die koste van orkaan Irma begin bereken nadat die vernietigende storm ʼn spoor van dood, verwoesting en chaos agtergelaat het waarvan hierdie toerisme-afhanklike streek jare lank kan neem om te herstel. Die kategorie 5-storm, wat die lewens van minstens 28 mense in die omgewing geëis het, het behuising, kragbronne en kommunikasiestelsels verwoes en sommige klein eilande feitlik van die wêreld afgesny.

Die gebiede wat die swaarste getref is, sluit Barbuda, die Nederlandse en Franse kante van St. Martin, die Amerikaanse en Britse Maagde-eilande en Anguilla in. Die premier van Antigua en Barbuda, Gaston Browne, het gesê Irma het “totale verwoesting” op Barbuda gesaai, wat hy as “skaars bewoonbaar” beskryf nadat 90% motors en geboue beskadig is.

Amptenare en inwoners in sommige van die geaffekteerde gebiede het hulle teleurstelling uitgespreek oor die hoeveelheid buitelandse noodleniging wat hulle ontvang het. Antigua en Barbuda se ambassadeur in Amerika, Ronald Sanders, het gekla dat die enigste regering wat tot dusver “praktiese, positiewe bystand verleen het, die regering van Venezuela is.” Hy het verder gesê: “Ons het sover moontlik alles gedoen wat ons as ʼn klein landjie met baie beperkte hulpbronne kon doen. Ons gaan niemand sonder hulp laat nie.”

Bid asseblief saam met ons vir diegene in die Karibiese Eilande wat geraak word deur hierdie verwoestende natuurramp.

“Ek doen ʼn beroep op ons as ʼn volk om Hom te vra vir hulp en genade. Die mens kan net soveel doen in afwagting en om voor te berei vir ‘n storm, maar hierdie land dien ‘n God wat groter is as enige storm en Sy stem kan stilte bevel in die uitspansel wat Hy deur Sy hand gevestig het.” (Sharlene Cartwright-Robinson, Premier van die Turkse- en Caicos-eilande in haar toespraak aan inwoners op 6 September 2017)


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.