-deur Lourieke Haller

21 Maart 2019

“As Volksgenote is ons afhanklik van mekaar en kan die een nie sonder die ander een klaarkom nie. Ons belange is aan mekaar gekoppel. As die een deel ly, dan ly die ander ook.” – Dr. Nico Diederichs (Suid-Afrikaanse akademikus en politikus).

Dit is die woorde waarmee die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, Hannes Noëth, sy toespraak tydens Helpende Hand se Wes-Kaap Streekskongres geopen het.

Helpende Hand voeg die daad by die woord om armoede te help verlig en mense op te hef. Een treffende voorbeeld van die organisasie se gewilligheid om moue op te rol en betrokke te raak, is die geval van Huis Davidtsz, waar die tehuis vir bejaardes in Pretoria se middestad van verlede jaar 14 Maart af sporadies onder personeelstakings gebuk gaan. Helpende Hand het verlede jaar ingespring om na die bejaardes om te sien en hulle te versorg, nadat personeel dae aaneen versuim het om die bejaardes te bad of van maaltye te voorsien. Hannes het self saam met sy span ingespring en inwoners gebad, van kos voorsien en gehelp op ontstelde bejaardes weer rustig te laat voel.

Die organisasie, wat “armoede gestruktureer en doeltreffend beveg”, het 150 takke landswyd met 40 000 ondersteuners. Helpende Hand fokus op vier areas: kinders, bejaardes, gestremdes en studiefondse.

Van die projekte waarby hierdie fokusgroepe baat, is die kosblikkieprojek, studiefondslenings, voedingskemas vir bejaardes, en winkels en klinieke in ankerdorpe.

Wanneer in ag geneem word dat daar net in Gauteng per dag ongeveer R1,8 per deur motorvensters aan bedelaars oorhandig word ( ± 6 000 mense wat bedel en elk gemiddeld R300 per dag ontvang), kan ’n mens verstaan waarom Helpende Hand klem lê op gestruktureerde armoedeverligting. Dink net watter verskil kan daar in ons samelewing gemaak word met R54 miljoen per maand se direkte armoede verligting!

Helpende Hand sê dit help nie om R1,8 miljoen per dag verlore te laat gaan nie. Kies hoe en waar jy saai, sluit aan by organisasies wat armoede met ’n doelgerigte plan beveg.

Besoek gerus Helpende Hand (helpendehand.co.za/) om ’n skenking van R50 per maand te maak en op ’n gestruktureerde manier by te dra tot armoedeverligting in die land.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.