-deur Leandra Goosen, Harvesters Ministries

 

14 Maart 2019

Reg in die middel van die Horing van Afrika – dit is waar Harvesters Ministries in Februarie met ’n groep leraars vergader het. Hierdie leraars is deel van ’n kerknetwerk van meer as 500 kerke wat danksy doelgerigte evangelisasie in hierdie streek gestig is.

Wat dit so belangrik maak, is dat hierdie groei plaasgevind het in ’n land wat omring word deur ander lande wat bekend is ​​daarvoor dat hulle die Christendom uiters vyandiggesind is; dit sluit onder meer lande in soos Somalië, Soedan, Eritrea en Djiboeti.

Somalië is tans die tweede gevaarlikste land vir ’n Christen om in te woon. In Eritrea word leraars in skeepsvraghouers opgesluit en die kerk word erg vervolg. Ethiopië se politieke klimaat het ten goede verander en met ’n nuwe premier wat ’n belydende Christen is, versprei hierdie positiewe invloed reeds oor die grens van Ethiopië na hierdie lande.

Ethiopië is in die hartjie van die Horing!

Ethiopië het ’n baken van hoop geword, ’n helder lig te midde van die duisternis van die Horing wat hulle omring. Die leraars in Ethiopië is werklik aan die brand vir die Here. Toe Harvesters in Ethiopië aankom, het ons ’n Kerk aangetref wat reeds besig was met doelgerigte evangelisasie en om kerke te plant. Hierdie merkwaardige kerkleiers het Harvesters se opleidingsmateriaal en metodologie verwelkom en ’n sterk vennootskap is gevorm. Sedert Januarie 2019 is ’n merkwaardige 1 500 pragtige siele vir die Koninkryk van die Here Jesus Christus gewen en gedoop. As hierdie leraars binne een maand so ’n groot uitwerking kan hê, stel jou voor wat hulle in die res van die jaar kan vermag!

Die grootste oorwinning van alles is dat al hierdie nuwe gelowiges in kerke gewortel is en groei om ook dissipels in hul gemeenskappe te wees, waar hulle deur evangelisasiewerk voortdurend ook ander wat verlore gaan, na Christus toe kan lei.

Ons loof die Here vir dít wat nou in Ethiopië plaasvind. In vennootskap met die plaaslike kerk maak Harvesters Ministries die pad oop sodat die Horing van Afrika Jesus kan ontmoet en leer ken.

Die oes is gereed om ingesamel te word.

Vir meer inligting besoek www.harvestersministries.com

RAAK VANDAG BY HARVESTERS MINISTRIES BETROKKE!

Borg vir ’n jaar ’n leraar se opleiding vir slegs R150 per maand (volledige opleiding neem drie jaar lank). Elke leraar wat opleiding ontvang, gaan uit en plant ten minste tien kerke. Hy lei op sy beurt dan studente-leraars vir elkeen van hierdie kerke op en hulle gaan uit en plant nog meer kerke. Jou bydrae kan bydra tot die uitbreiding van God se Koninkryk, nie net in Somalië nie, maar in 62 lande oor die hele wêreld.


Artikel: Voorsien

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.