6 Februarie 2018

Tienduisende Verwag By Biddag Vir Omkeer In Kaapstad
Wanneer ons kyk na die die ergste droogte in die geskiedenis van die Wes-Kaap, die talle mense wat daagliks op die Kaapse Vlakte vermoor word, na die absolute minagting vir lewe, die totale morele verval in Kaapstad, die dwelm- en drankmisbruik wat ontaard het in ‘n epidemie en na die talle gesinne wat sonder ‘n vaderfiguur moet funksioneer, sal die meeste mense saamstem dat die tyd nog nooit so ryp is soos nou nie om in Kaapstad te bid.

Die geleentheid: IT’S TIME KAAPSTAD; die datum: Saterdag 24 MAART; die Plek: SPINE/SWARTKLIP SPORTTERREIN, MITCHELL’S PLEIN
Angus Buchan, die vader van die It’s Time-byeenkoms in Bloemfontein op 22 April 2017, toe een miljoen mense die grootste gebedsaamtrek in die geskiedenis van Suid-Afrika bygewoon het, het einde verlede jaar die visie ontvang vir die aanbied van ʼn soortgelyke reuse-gebedsaamtrek in die hartjie van die Kaapse Vlakte. 

“Die Here het dit tydens my stiltetyd ʼn paar maande gelede sterk op die hart gelê om die Evangelie van Jesus Christus na Mitchells Plein te neem. Daarmee saam het God ʼn geweldige verantwoordelikheid op my skouers geplaas vir die wat verlore is, vir diegene wat swak is van gees en van hart, vir hulle wat vasgevang is in bende aktiwiteite en in die sinnelose verontagsaming van menslike lewe wat daagliks op die Kaapse Vlakte aan die gebeur is,” het Buchan gesê.

“As ʼn nasie kon ons sien wat God vir ons gedoen het sedert 22 April verlede jaar. Ons is deeglik bewus van die grootskaalse skuiwe wat besig is om op politieke gebied in ons land plaas te vind. Ons het gesien hoe die Suid-Afrikaanse rand versterk, en dit te midde van ʼn wankelende ekonomie. En nogmaals word ons as gelowiges daardeur herinner dat wanneer God se kinders bid, Hy tot aksie oorgaan.”

It’s Time Kaapstad is ‘n een-daggeleentheid van 11:00 tot 16:00 op Saterdag 24 Maart. Buchan gaan na verwagting die skare vanaf 14:00 toespreek. Slegs toiletgeriewe word verskaf. Almal wat dit bywoon moet dus selfversorgend wees met eie kos en water.

Toegang tot die byeenkoms is gratis en daar gaan ook nie op die dag enigiets te koop aangebied word nie. Die terrein sal goed voorberei wees. Die verhoog, die klank, die video skerms ensomeer sal soos dit in Bloemfontein die geval was, in plek wees.

Daar word allerweë verwag dat derduisende Kapenaars van alle vlakke van die samelewing, insluitend boere en hul werkers, asook besoekers van oral in Suid-Afrika die saamtrek gaan bywoon om op een plek saam tot God te bid om Kaapstad op ʼn wonderbaarlike manier te besoek. Dit sal die grootste massabyeenkoms nog in die Kaap wees.

Omdat dit ʼn gebedsaamtrek is, word alle kerke en denominasies versoek om teenwoordig te wees. Die geleentheid word doelbewus op ʼn Saterdagmiddag gehou, sodat die mense Sondag terug in die kerk kan wees. 

Volgens Buchan gaan It’s Time Kaapstad ʼn geskiedkundige geleentheid wees en kan niemand dit bekostig om dit mis te loop nie. Hy is ook oortuig daarvan dat Suid-Afrika op die rand staan van die grootste herlewing wat nog ooit beleef is, en dat dit eintlik reeds begin het. Daar was al male sonder tal in die verlede profesieë uitgespreek dat die herlewing in die mees suidelike deel van Afrika gaan begin en regdeur die vasteland gaan versprei tot by die mees noordelike punt.

“Ek is soos nog nooit tevore nie opgewonde oor ons geliefde land Suid-Afrika. Ek glo dat die It’s Time Kaapstad geleentheid ʼn lig gaan wees wat nie net oor die vasteland van Afrika gaan skyn nie, maar oor die hele wêreld,” aldus Buchan.

Nader besonderhede oor It’s Time Kaapstad is verkrygbaar en sal gereeld opgedateer word op www.angusbuchan.co.za


Bron: www.angusbuchan.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.