-deur Lourieke Haller

13 April 2018

‘n Groepie manne van Bloemfontein wat as “Cross Miles for Jesus” bekend staan “sweet” graag vir Jesus deur Kruise tot Sy eer op te rig.

Die groep het onder meer die verlede jaar die beligting van die drie kruise behartig op die koppie net buite Bloemfontein waar die “It’s Time” byeenkoms gehou is.

Byskrif: Die kruise op Wilde-als waar It’s Time Bloemfontein gehou is in 2017

Dit het alles begin toe die Here dit in 2013 op Greyling Venter se hart gelê het om ʼn “kruistog” vir die Here na Namibië te doen en ʼn houtkruis tot Sy eer op Tsumkwe te plant. “Ons was toe uiteindelik ʼn groepie van agt en daardie Julie het ons die kruistog vanaf Nakop Grenspos tot in Tsumkwe in die Noord Ooste van Namibië onderneem,” vertel hy.

“Ons stap of draf gedeeltes tussen dorpe met die houtkruise. Ons het kruistogte in Karasburg, Keetmanshoop, Okahandja, Grootfontein en uiteindelik Tsumkwe gedoen en het amper 3 000 hangertjies met kruisies uitgedeel. Op Tsumkwe het ons die groot houtkruis aan die geestelike leiers van die Boesmans oorhandig.  Ons het die kruis teen hulle kerkgebou opgerig.

Byskrif:  Die kruis teen die kerk op Tsumkwe

In 2015 het die groep weer na New Xanagas in Botswana teruggekeer.

“Ons het ʼn verligte kruis langs die A2-roete opgerig (dis die hoofroete tussen  Namibië en Botswana). Dié pad het baie swaarvragmotorverkeer en ons het ervaar hoe die kruis (Jesus) met hulle “praat” as hulle diep in die nag daar verbyry. Hulle skakel oor na ʼn laer rat en ry stadig daar verby.”

Byskrif: Die kruis langs die A2-roete tussen Namibië en Botswana

Die groep het ook ʼn waterpomp wat met sonpanele werk, by een van die “Cattle Posts” – by name Blessings – geïnstalleer.

“In 2016 het Jesus Cross Miles weer teruggestuur na New Xanagas toe. Ons moes ʼn kruis oprig wat oor die nedersetting en gemeenskap skyn,” sê Venter.

Byskrif: Die verligte kruis by New Xanagas

Vanjaar het Cross Miles for Jesus ʼn kruis op die Langeberge by Boesmanskop opgerig. Dit skyn oor ’n groot boeregemeenskap wat teen die Lesotho grens boer.

“Soos Lukas 1 dit beskryf, glo ons dat hierdie verligte kruise Jesus se Lig laat skyn oor ons almal en ook oor “die wat in duisternis en doodskaduwee sit”  en om ons voete na die pad van vrede te rig,” verduidelik hy.

Byskrif: Die kruis op Boesmanskop op die Langeberge ((dit is tussen Van Stadensrus en Zastron).

Die “Cross Miles for Jesus” groepie bestaan uit Herman van Wyk, Johannes van Wyk (Herman se seuntjie – 11 jaar), Niekie van Zyl, Boer van Zyl (Niekie se seun – 19 jaar), Sampie Potgieter en Greyling Venter.

“In die uitvoering van hierdie opdragte, moet ons altyd onthou dat dit die krag van Jesus is wat deur ons swak liggaam werk en die eer en roem vir sukses en oorwinning kom Hom alleen toe. Dit is alles net genade,” sluit Venter hulle getuienis af.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.