-deur Eric Metaxas, G. Shane Morris | Christian Headline.com

8 September 2017

Dit was ’n seisoen van slegte nuus, rassisme, onluste en politieke geweld [in Amerika, maar ook plaaslik].

Oliver Burkeman, van The Guardian, skryf dat ten spyte van ‘n burgeroorlog in Sirië, hartverskeurende foto’s van vlugtelinge wat verdrink het, Noord-Korea se dreigemente oor ’n kernoorlog, natuurrampe, terreuraanvalle en rassegeweld, die wêreld nou beter daarna uitsien as ooit te vore.

Moeilik om te glo? Hier is die feite: die Sweedse historikus, Mark Norberg, analiseer wêreldwye aanwysers van menslike voorspoed en welsyn volgens nege kategorieë: voedsel, sanitasie, lewensverwagting, armoede, geweld, die toestand van die omgewing, geletterdheid, vryheid, gelykheid en kinders se lewensomstandighede. In byna al hierdie kategorieë is daar ‘n groot verbetering te sien.

Ten spyte van die feit dat nege uit tien Amerikaners sê dat armoede wêreldwyd aan die toeneem is, is die persentasie mense ter wêreld wat met minder as twee dollar per dag (VN-definisie vir uiterste armoede) oor die weg kom, die laagste ooit.

Die vlaag kindersterftes is ook die laagste ooit. Vyftig persent minder kinders onder vyf sterf vandag as wat dertig jaar gelede gesterf het. Wêreldwyd kry 300 000 meer mense per dag toegang tot elektrisiteit. In 1900 was die wêreldwye lewensverwagting ʼn skrale 31 jaar. Vandag is dit ‘n indrukwekkende 71 jaar.

Nicholas Kristof was nie verkeerd toe hy 2016 “die beste jaar in die geskiedenis van die mensdom” bestempel het nie. Daar mag vanjaar selfs nog meer vordering gemaak word.

Hoekom is ’n mens se indruk dat hierdie positiewe verklarings onakkuraat – selfs verregaande is? Hoekom – volgens ‘n onlangse meningsopname deur YouGov – dink ‘n kwynende ses persent Amerikaners dat die wêreld as geheel besig is om te verbeter?

Burkeman lê die blaam voor die deur van die pers. Dit is te wyte aan nuus wat 24 uur per dag beskikbaar is en aktief die ergste stories soek en verder oordryf; ons persepsie van die wêreld word hierdeur verdraai. “Ons is nie bloot onkundig oor die feite nie,” skryf hy. “Ons word aktief oortuig deur ontmoedigende ‘feite’ wat egter nie waar is nie.” En geen wonder nie! Dit is moeilik om koerante te verkoop en internetbesoekers met goeie nuus te lok. Niemand berig wanneer ‘n vliegtuig suksesvol opstyg nie, hulle berig slegs wanneer daar een neerstort.

ʼn Groot deel van die skuld vir ons somber siening van die wêreld rus egter ook op ons skouers. Ons hou daarvan om ontsteld te wees oor die stand van die wêreld, veral wanneer ons iemand anders daarvoor kan blameer. Dit is hoekom dit so belangrik is om ook die goeie nuus, die vordering en die dinge wat ons moet vier, te waardeer –  terwyl ons die ernstige boosheid en lyding rondom ons erken. Hoe kan ons werklik verstaan ​​wat verkeerd is met die wêreld as ons nie erken wanneer iets reg  verloop nie?

Oorlog, hongersnood, siekte en haat moet ons almal herinner dat God se wêreld, wat Hy geskep en as goed verklaar het, gebroke is en dit is ons skuld is. Maar, hier is die ware troos: Dit is nog steeds ons Vader se wêreld. Laat ons dit dus nooit vergeet nie, God is steeds die Opperheer. ”

As Christene weet ons waarheen die geskiedenis op pad is, en ons weet hoe die storie eindig – met die verlossing en herstel van alle dinge. Ons wat die goeie nuus het, moet die eerstes wees om alle goeie nuus te erken, nie ten spyte van nie, maar te midde van die slegte nuus.


Bron: christianheadlines.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.