-deur Nadene Badenhorst

12 Junie 2018

Freedom Of Religion South Africa (FORSA) het op 30 Mei 2018  ’n inligtingsessie bygewoon van die Departement van Justisie (DvJ) aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Justisie aangaande die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak.

Hierdie inligtingsessie het gevolg op sekere wysigings aan die oorspronklike konsep van die wetsontwerp deur die DvJ in reaksie op die bykans 76 000 voorleggings van die publiek (insluitende ’n groot aantal godsdiensorganisasies).

Hierdie wysigings sluit ’n “godsdiensvrystellingsklousule” in wat interpretasie en verkondiging van enige godsdienstige beginsel, geloof, onderrig, lering of geskrifte vrywaar,  in so ver dit nie haat voorstaan wat ander aanhits tot geweld nie.

FOR  SA – te same met ander godsdiensorganisasies – het baie hard gewerk om te verseker dat so ’n vrystellingsklousule in die wetsontwerp ingesluit word, en het selfs met die adjunkminister van justisie  vergader (asook  ’n vergadering tussen hom en godsdiensleiers georganiseer om besware te bespreek). By die parlementêre inligtingsessie was ons egter verbaas om  uit te vind dat die vrywaring volgens die adjunkminister slegs vir preke sal geld en nie vir verklarings wat deur individue gemaak word nie. Gelukkig het die ACDP-LP Steve Swart onmiddellik beswaar gemaak en die adjunkminister se verklaring beskryf  as een wat individue sou uitsluit, insluitend bv. Jehova se Getuies, om hul geloof met ander te deel.

Die voorstel dat die godsdiensvrystellingsklousule slegs van toepassing sou wees op preke (en nie op  wat individue in hulle eie kapasiteit sê nie) is eenvoudig verstommend! Volgens die bewoording van die godsdiensvrystellingsklousule is daar geen ruimte vir sodanige onderskeid of beperking nie. Daarbenewens behoort artikel 15 van die Grondwet (wat die reg op godsdiensvryheid verskans, insluitend godsdienstige uitsprake) aan almal, oral in die Suid-Afrika. Dit behoort dus net soveel aan die predikant in die preekstoel as aan die persoon wat sy godsdienstige oortuigings  op straat, by die werk of in enige ander omgewing of forum deel. Om die toepassing van die godsdiensvrystellings-klousule tot preke te beperk, impliseer dat die gewete, oortuigings en geloof van individuele gelowiges op die een of ander manier minder heilig en waardig is om beskerm te word as hul leraars. Dit word duidelik nie deur die Grondwet of die reg ondersteun nie.

As ’n organisasie is FOR SA dit eens dat niemand (hetsy ’n leraar of ’n individuele gelowige) onder enige omstandighede  (hetsy op die preekstoel of elders) toegelaat moet word om stellings te maak wat haat voorstaan en geweld aanhits nie. Die definisie van “haatspraak” in die wetsontwerp is egter alreeds breër  as wat in die Grondwet vervat is, en was doelbewus beperk sodat vryheid van spraak en uitdrukking grotendeels onbelemmerd sou wees.

In teenstelling hiermee is die definisie in die huidige wetsontwerp so uiteengesit dat enigiemand “aanstoot” kan neem – al is die uitspraak nie op hulle gerig nie. Om dan die uitsprake op die preekstoel uit te sonder vir vrywaring, maar al die ander godsdiensuitsprake in ander omstandighede aan die wet te onderwerp, is ’n dubbele slag vir ’n fundamentele mensereg. Dit is veral waar omdat wêreldwye “haatspraakwette” toenemend  teen Christene gebruik word wanneer  hulle bloot die Bybel bely en hul opregte godsdiensoortuigings en geloof deel (insluitend Christen-straatpredikers, Christene in die werkplek, ens.)

Oproep tot  aksie

Dit is duidelik dat ten spyte van die beloftes en versekering wat aan die godsdiensgemeenskap  gemaak is, dat die bedreiging vir godsdiensvryheid steeds bestaan. FOR SA sal voortgaan om betrokke te raak by die Departement van Justisie, die Justisie Portefeuljekomitee en ander belanghebbendes in hierdie verband.

Dit is egter uiters belangrik wanneer die hersiene wetsontwerp vir kommentaar gepubliseer word, dat gelowiges en godsdiensorganisasies (weer) kommentaar lewer op hierdie hersiene wetsontwerp. In hierdie verband sal FOR SA binnekort ons kommentaar op die hersiene wetsontwerp, sowel as ’n pro forma-voorlegging, op ons webwerf (www.forsa.org.za) publiseer.

Hou asseblief  ons webwerf en ons Facebook-bladsy – Freedom of Religion SA) – dop vir besonderhede rakende die publikasie van die hersiene wetsontwerp vir kommentaar, die sperdatum vir kommentaar ens. Alhoewel dit in hierdie stadium nog nie duidelik is wanneer die wetsontwerp beskikbaar sal wees vir kommentaar, of wat die sperdatum vir kommentaar sal wees nie, verwag ons dat hierdie fase van die proses in die nabye toekoms sal afskop!


Bron: forsa.org.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.