-deur Solidariteit

17 Mei 2017

Die vakbond Solidariteit het gister aangevoer dat die uitspraak in die saak in die hooggeregshof in Johannesburg nie net die ses skole raak nie, maar 24 000 ander skole in Suid-Afrika. Die saak is dus van belang vir honderde duisende ouers en kinders in Suid-Afrika. Die applikante in die saak se aansoek dat godsdienspraktyke by skole verbied moet word, druis lynreg in teen 95% van Suid-Afrikaners wat hulle met ʼn geloof identifiseer.

Volgens Solidariteit word Suid-Afrikaners juis deur geloof en waardes in Suid-Afrika oor tradisionele skeidslyne heen saamgebind. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge identifiseer 86% van Suid-Afrikaners hulle as Christene en bykans 95% identifiseer met die geloof. Slegs 5,2% sien hulself as ongelowig of weet nie met watter geloof hulle identifiseer nie. Volgens die World Value Survey en die Pew Global Morality Study word Suid-Afrikaners deur sosiale waardes aanmekaar gebind. Die World Value Survey het ook bevind dat 83,9% van Suid-Afrikaners geloof as belangrik ag; 96,7% in God glo; en dat 1,9% hulself as ateïste identifiseer. Volgens Solidariteit is die applikante se aansoek dus in wese ʼn ondemokratiese poging om hul eie, uiters eng belang op skoolgemeenskappe af te dwing.

“Wat die applikante doen, is om te probeer om die morele gom wat Suid-Afrikaners aan mekaar bind, te vernietig. Die vraag is of dít wat die applikante vra, strook met wat gewone Suid-Afrikaners wil hê. Indien daar na die statistieke gekyk word, is dit duidelik nie die geval nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit het vandag as vriend van die hof ten gunste van die ses skole wat die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie oor hul godsdienspraktyke voor die hof gebring het, geargumenteer. Volgens Solidariteit is dit grondwetlik toelaatbaar en wenslik dat skoolgemeenskappe deur middel van hul demokraties verkose liggame oor ʼn skool se etos en praktyke besluit.

“Daar is nie so iets soos neutrale onderrig nie. Die ateïste wat die saak na die hof gebring het, wil in praktyk dít wat hulle glo op skoolgemeenskappe afdwing. Selfs ʼn sekulêre benadering is ook ʼn lewensbeskouing wat op skoolgemeenskappe afgedwing word. Onder die dekmantel van insluiting sluit hul argumente die wil van gemeenskappe uit.

Die huidige stelsel waarvolgens ouers deur beheerliggame besluit oor godsdienspraktyke by skole, maar wel voorsiening maak vir diegene wat nie daaraan

wil deelneem nie deurdat hulle hul van sodanige aktiwiteite kan onttrek, is die korrekte benadering want só word die reg van die skoolgemeenskap en die individu geakkommodeer. Skole moet ook streng riglyne hê om individue wat van die skool se etos en praktyke verskil met respek te akkommodeer en om te verseker dat deelname aan godsdienspraktyke te alle tye vrywillig is. Beheerliggame moet dus toesien dat hul beleid rondom godsdienspraktyke billik is.

Indien die applikante se aansoek slaag, sal basiese praktyke soos saalopening, gebed by sportbyeenkomste, Kerssangdienste deur kore, maar ook ʼn spesifieke geloofsetos by skole verbied word. In duisende skole is dit juis dié waardes wat die kinders aanmekaar bind. Die gebrek aan die waardes, praktyke en ʼn etos sal oor die lang termyn radikale gevolge vir die kultuur van skole en later ook vir Suid-Afrika inhou,” sê Hermann.

Volgens Hermann tree Solidariteit namens die onderwysers in die saak op. “Duisende onderwysers is roepingsgedrewe en glo daaraan dat kinders nie net neutrale individue moet wees nie, maar dat hulle binne ʼn spesifieke waardestelsel opgevoed moet word. Dit is juis waarom hulle by skole onderrig gee waar hulle hul roeping kan uitleef,” verduidelik Hermann.


Bron: solidariteit.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.