9 Februarie 2019

– deur Christel Berns Villariza

Ons weet nooit wanneer ongelukke gaan gebeur nie, hulle kan enige tyd, enige plek gebeur. God het ’n engel gestuur om Kelly Carter uit ’n ongeluk te red wat amper ’n noodlottige een was.

Sy was op pad in Nash County, Noord-Carolina, toe sy beheer van haar voertuig verloor het. Volgens Kelly se verklaring het dit hard gereën toe sy op pad was huis toe ná ’n werksonderhoud. Haar motor het gegly en in ’n dam beland. Die water het baie vinnig ingestroom en Kelly was vasgevang in die sinkende voertuig. Sy het 911 probeer bel, maar haar selfoon was reeds nat en die operateur kon haar nie duidelik hoor nie. Sy het geweet hulp sal te laat opdaag. Dit was ’n hopelose situasie; net ’n wonderwerk kon haar red.

’n Polisiespeurder, Roger Shearin, het toevallig daar verbygery en die kattebak van Kelly se motor in die dam gesien. Teen hierdie tyd was die motor byna heeltemal vol water. 

Shearin het dadelik gestop en hom na die motor gehaas, hy het op die dak van die motor geklim en die passasierdeur oopgedwing. Hy kon Kelly uit die sinkende motor trek en haar na veiligheid neem.

Die polisiehoof van Middlesex, Mike Collins, onthul: “Speurder Shearin se werksure is eintlik vroeër in die dag, maar Maandag was die enigste dag wat ek al ooit vir speurder Shearin gevra het om nie op sy normale tyd in te kom nie, maar om vieruur in te kom en dan van vieruur tot agtuur te werk, want ons het ’n raadsvergadering gehad.

“Shearin ry ook nooit op daardie tyd van die dag op daardie pad nie – nooit nie;” het hy gesê. “Hy was bloot op die regte tyd op die regte plek ​toe Kelly hom nodig gehad het.”

“Dit het my koue rillings gegee toe ek hoor Shearin was nie eens veronderstel om op daardie tydstip daar te wees nie. Hy was beslis daardie dag my beskermengel,” het sy gesê.

“Die Here het beslis gesorg dat hy daar was en ek is so dankbaar. Ek is dankbaar dat ek nog ’n dag kan lewe,” het sy bygevoeg.

Shearin het ’n eerbewys van die polisiehoof ontvang, maar Shearin het geweier om al die eer vir homself te neem: “Ek het gedoen wat enigiemand anders in hierdie kamer sou doen en ek gee al die eer aan my Here en Verlosser, Jesus Christus, omdat dit danksy Hom is dat Kelly dit oorleef het.”

Dit was waarlik ’n goddelike ingryping. God se beskerming en leiding was daar vir Shearin en Kelly. Aan God al die eer!


Bron: godtv.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.