-deur Daniel Wallis en Cynthia Osterman / Reuters

13 Maart 2018

‘n Beplande beraad tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, het gelei tot gissings dat die geleentheid moontlik ook tot gevolg kan hê dat drie Amerikaners wat in Noord-Korea gevange gehou word, vrygelaat mag word.

Hier is ‘n blik op die Amerikaanse mans wat deur Noord-Korea aangehou word:

* Kim Dong Chul, ‘n Koreaanse-Amerikaanse sendeling , voorheen van Fairfax, Virginia is in Maart 2016 tot 10 jaar harde-arbeid gevonnis. Hy het erken dat hy “onvergeeflike spioenasie” gepleeg het onder die leiding van die VSA en Suid-Koreaanse regerings en het verskoning gevra vir sy misdade, het die Noord-Korea se KCNA-nuusagentskap berig. Ander Amerikaners wat deur Noord-Korea gevange geneem is, het na hulle vrylating gesê hulle is gedwing om soortgelyke bekentenisse te maak.

In ‘n onderhoud met CNN wat in Januarie 2016 in Pyongyang plaasgevind het, het Kim gesê hy is in Oktober 2015 in hegtenis geneem nadat hy spioenasiewerk gedoen het, namens “Suid-Koreaanse konserwatiewe elemente” wat hom glo genader het terwyl hy by ‘n handelsonderneming in Rason gewerk het, ʼn stad in Noord-Noord-Korea naby die Chinese grens. ‘n Noord-Koreaanse asielsoeker het later gesê sy het Kim in die Verenigde State ontmoet en dat hy by kerkbyeenkomste gesê het hy is ‘n sendeling wat Noord-Koreane help.

* Kim Sang-duk, ook bekend as Tony Kim, het ‘n maand lank rekeningkunde by die buitelandse befondsde Pyongyang Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (PUST) gegee voordat hy in April 2017 by die Pyongyang Internasionale Lughawe aangehou is terwyl hy probeer het om die land te verlaat. Die universiteit se kanselier het gesê die arrestasie was nie aan PUST gekoppel nie en dat Kim (59) by ander aktiwiteite betrokke was, insluitende hulpbystand aan ‘n weeshuis. Noord-Koreaanse staatsmedia het berig dat hy gearresteer omdat hy “vyandige dade” teen die regering gepleeg het.

* Kim Hak Song het ook by PUST klas gegee. Die universiteit is deur evangeliese Christene gestig en het sy deure in 2010 geopen. Die medestigter van die universiteit het gesê dat Kim, wat die skool se eksperimentele plaas by die kollege van landbou en lewenswetenskappe bestuur het, in Mei aangehou is terwyl hy op ‘n trein van Pyongyang na die Chinese grensdorp Dandong gereis het. In Februarie 2015 het Kim op ‘n fondsinsamelingsboodskap op die webtuiste van ‘n Koreaanse-Brasiliaanse kerk geskryf dat hy ‘n Christen-sendeling is wat toegewy is om Noord-Korea se mense te help leer om selfversorgend te wees. Noord-Koreaanse staatsmedia het gesê hy is ook in hegtenis geneem op aanklag dat hy “vyandige dade” teen die regering gepleeg het.

Byskrif: (REUTERS / Kyodo / File Photo)


Bron: Reuters en charismanews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.