-deur Erin Georgiou

27 Mei 2018

Onlangs is daar in ’n berig in ’n Afrikaanse koerant gepubliseer wat beweer dat ’n pastoor tydens sy preek by St. Andrew’s College in Grahamstad sekere dinge gesê het wat daartoe gelei het dat hy by die menseregtekommissie verkla is. Ná ’n gesprek met die pastoor het dit duidelik geword dat die waarheid weer eens verdraai is.

Hy is na St. Andrew’s genooi om met die leerlinge oor die gevare van pornografie en sosiale media te praat, wat hy gedoen het. Dit is onmoontlik om oor die een sonder die ander te praat. Omdat St. Andrew’s College ’n “Christelike skool” is – gestig in 1855 deur ’n Anglikaanse biskop – sou ’n mens kon aanneem dat jy Christelike beginsels daar kan bevorder, daarom het die gasspreker vanuit ’n Christelike wêreldbeskouing gepraat en Christelike waardes beklemtoon.

Uit die daaropvolgende gebeure is dit duidelik dat daar van die leerlinge en personeel is wat nie wedergebore Christene is nie, dus ook nie ’n Bybelse wêreldbeskouing huldig nie en aanstoot geneem het. Die Bybel het ons gewaarsku dat dit die geval sal wees. Matteus 10:22: “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam,” o“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” – 2 Timoteus 3:12.

Die gevaar lê by onwedergebore Christene – wat met hulle verstand glo en bloot ’n  akademiese begrip van Jesus Christus het; hulle het die tradisies en wette lief, maar wil nie standpunt inneem vir die waarheid nie. Dit is nou die aangewese tyd om wysheid aan die dag te lê en te gaan “waar ons gevier word en nie bloot verduur word nie”. JUIG! Tydskrif vind dat ons ook nie geduld word in onwedergebore Christelike kringe nie. Ons word as charismaties, fundamentalisties of evangelies uitgemaak. Ons is egter net wedergebore Christene wat volgens Johannes 3:7 lewe wat sê dat jy wedergebore moet word. Wat gebeur wanneer jy wedergebore word? Jou denke word vernuwe en verander; jy word gevul met die Heilige Gees, jy begin dors na geregtigheid en reg. Jy wil nie meer die kwaad duld nie.

Alle wedergebore leraars sal van nou af ongelukkig hulle gehore versigtig moet kies en hulle deur die Gees laat lei om te onderskei waar om wat te sê. Ons moet natuurlik elke geleentheid gebruik om die Evangelie te verkondig, maar onderskeiding is noodsaaklik. Wees versigtig, want daar is dié wat daarop uit is om jou uit te vang en tot ’n val te bring.

Dit is ook hoog tyd dat alle Christene saamstaan. Die boodskap van eenheid is belangrik, want as een Christen tot stilswye gedwing word, word almal tot stilswye gedwing. Dit is ongelukkig ook nie die eerste keer dat ’n leraar of Christen-spreker aangekla is nie: pastoor Cornelis van Heyningen, pastoor Andrew Selley en Gretha Wiid moes dit ook die hoof bied. Die Bybel vermaan ons om versigtig te wees soos slange en opreg soos duiwe. Moenie kompromis aangaan met die Evangelie nie,  dit is nie ’n misdaad om die Evangelie te verkondig nie – hulle probeer om dit ’n misdaad te maak, maar dit is nie. Dit is nie ’n misdaad om die waarheid, soos in die Bybel vervat, te verkondig nie, maar daar is mense wat die Bybel die swartskaap maak. (Sien gerus Errol Naidoo se artikels in hierdie verband

joydigitalmag.com/voice-post/hate-speech-bill-assault-religious-freedoms/

joydigitalmag.com/voice-post/hate-crimes-vs-integrity-authority-bible/

joydigitalmag.com/voice-post/the-demonization-of-christianity/

Naidoo het in die Januarie-uitgawe van JUIG! Tydskrif vanjaar gesê: “Jesus het nie Sy Kerk beveel om die samelewing aan sekulêre humaniste oor te laat nie. Hy het gesê: ‘… op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.’ – Matteus 16:18. Dit is die Kerk se rol om die Koninkryk van God met vrymoedigheid te verkondig, nie om dit in ’n immer krimpende arena te verskans nie. Die afwesigheid van ’n Bybelse wêreldbeskouing in die samelewing versterk die mite dat God nie bestaan nie of onbetrokke is; dit bevorder die sekulêre humanistiese ideologie dat die mensdom die middelpunt van alles is. Die sekulêre humanistiese agenda om fundamentele instellings soos die huwelik en die gesin te herdefinieer en menslike seksualiteit te verwar, word hoofsaaklik deur die media en die howe bevorder . . . Christen-regslui die uiters belangrike ideologiese stryd in die howe stry.”

Daar is inderdaad diegene wat dit ’n misdaad probeer maak om ’n Bybelse wêreldbeskouing te verkondig. Hoe hartseer is dit dat sogenaamde Christene en instellings is wat die vervolging doen, maar moenie vergeet nie – en ons laat jou hiermee – dit was Judas wat Jesus verraai het, nie ’n ongelowige nie.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.