-deur Jeanne Smit

12 April 2019

“’n Boom is ’n lewende organisme met ’n gemiddelde lewensduur wat baie langer is as dié van ’n mens. Dit behoort regdeur sy lewe gerespekteer word en die reg geniet om vrylik te groei en te reproduseer, vanaf sy geboorte [sic] tot sy natuurlike dood, ongeag of dit ’n boom in die dorp of ’n landelike gebied is. ’n Boom moet as ’n regsentiteit beskou word, met regte, insluitend wette rakende menslike eiendom.”

Hierdie verstommende verklaring oortref selfs die eise van voorstanders van diereregte, wat reeds alles in hulle vermoë doen om die onderskeid tussen die mens en diere uit te wis.

Nog meer verrassend is die feit dat die “Verklaring Vir Bome Se Regte” verlede Vrydag in die Franse Nasionale Vergadering in Parys aanvaar is.

Die simposium is onder die titel “Merkwaardige Bome” georganiseer deur ’n lid van die nasionale vergadering en voormalige minister, Delphine Batho. Sy is sedert September verlede jaar die president van die Franse politieke omgewingsparty, Génération Écologie. Sy is in 2007 tot die nasionale vergadering verkies en het sedertdien verskeie hoë aanstellings gehad. Sy was ’n woordvoerder van Francois Hollande tydens sy kandidatuur in 2012. Nadat hy as president van Frankryk verkies is, het sy die adjunkminister van justisie geword en na ’n kabinetskommeling, die minister van ekologie, volhoubare ontwikkeling en energie.

Die doel van die simposium was nie heeltemal verregaande nie: deelnemers wou beter bestuur van historiese bome verseker wat ’n nasionale skat is. Om ’n mooier omgewing voor te staan en te vra dat bome beskerm word en dat meer as net kommersiële gewin in ag geneem moet word, het sy meriete.

Tot op hede het honderde bome in Frankryk sedert 2000 ’n “merkwaardige boom”-etiket ontvang wat die boom se skaarsheid, ouderdom, grootte en skoonheid in ag neem. Elkeen van daardie bome staan steeds. Onder die bome wat die organisasie so gemerk het, is ’n witakasiaboom wat oorkant die Notre-Dame-katedraal in Parys staan en in 1601 geplant is, ’n eikeboom in Bretagne sowat 1 600 jaar oud is en ’n florerende olyfboom in Korsika wat sowat 2 000 jaar oud is.

Die probleem met moderne omgewingsbewustes is egter dat hulle die beskerming van die natuur in sy breë sin gelykstel aan menseregte, wat die mens se verpligting teenoor God en sy medemens weglei en diere en plante hulle eerste prioriteit maak. Die gevolg is dat respek vir menslike lewe tweede viool speel, ná respek vir “die planeet” of “Moeder Aarde” en uiteindelik word die mens as ’n bedreiging vir die natuur beskou.

(Foto Krediet: Shutterstock.com via LifeSiteNews)


Bron: breakingchristiannews.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.