-deur  Cherolyn Amery

12 Julie 2018

Eritreërs en Ethiopiërs het rede om fees te vier nadat hul onderskeie leiers (Ethiopië se premier Abiy Ahmed en Eritrea se president, Isaias Afwerki) op ​​Sondag 8 Julie vergader het en amptelik ingestem het om verhoudings tussen die twee buurlande te herstel.

Dit beëindig in wese een van Afrika se langste konflikte. Die historiese ontmoeting tussen die leiers, wat in Eritrea se hoofstad (Asmara) gehou is, volg op weke van veranderinge en toenadering wat grootliks deur Abiy (wat in April vanjaar aan bewind gekom en ’n reeks hervormings in werking gestel het) geïnisieer is. Veranderinge sluit in dat mense nou meer vrylik tussen die twee lande kan beweeg en die opening van ambassades in albei hoofstede.

Eritrea en Ethiopië was in konflik gewikkel en het op die randjie van oorlog gestaan sedert die grensoorlog van 1998-2000 (wat verantwoordelik was vir meer as 80 000 sterftes en die ontworteling van honderdduisende mense). Ná die oorlog het Ethiopië geweier om ’n beslissing deur die Verenigde Nasies te aanvaar om afstand te doen van betwiste grondgebied langs die grens van Eritrea. Eritrea, wat voorheen ’n provinsie van Ethiopië was, het in 1993 gestem om van Ethiopië af te stig.

Volgens Aljazeera “kan die hervestiging van diplomatieke en handelsbande na jare van bittere skeiding groot voordele inhou vir beide nasies en die breër Horing van Afrika-streek, wat geteister word deur konflik en armoede.” Hallelujah Lulie, programdirekteur van Amani-Afrika, ’n Ethiopië-gebaseerde Afrika-dinkskrum, het gesê: “Ethiopië en Eritrea het ’n baie ryk geskiedenis, gedeelde kultuur, godsdiens en gedeelde herinneringe aan trauma.”

Intussen word Eritrea steeds beskou as ’n hoogs onderdrukkende nasie en lê sesde op Geopende Deure se lys van lande waar Christene die meeste vervolg word (Ethiopië is 29ste op díé lys). Bid asseblief saam met ons dat die onlangse verwikkelinge sal lei tot volhoubare vrede en verhoogde vryheid vir die Kerk in albei nasies.

“Daar is dele van ons roeping, werke van die Heilige Gees, en nederlae vir die duisternis wat op geen ander manier sal kom as deur driftige, vurige, geloofsvervulde, onophoudelike gebed nie.” – Beth Moore


Bron: Incontext Ministries

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.