-deur Caitlin Burke

4 Augustus 2017

ʼn Skeepskaptein was onlangs by ʼn dramatiese redding betrokke in Alaska.

Kaptein Christian Trosvig is al vir meer as 20 jaar lank ‘n visserman; sy tuiste is die hawestad, Kodiak, in Alaska. Hy en sy bemanning en omtrent vier ander vaartuie het by Alaska se Raspberry Island visgevang.

“Danksy die Here het ons ʼn groot vangs gehad en het pas die nette opgerol toe die alarms begin afgaan, het Trosvig CBN News vertel. Water het by sy boot, The Grayling, begin instroom.

Trosvig en sy bemanning het begin om die water uit te pomp, toe ʼn reusebrander die sukkelende boot sonder waarskuwing tref en laat omslaan. Trosvig het saam met een van sy bemanningslede in die water beland. Hy is uit die water opgepik en die ander vaartuig daar naby het kom help om die ander bemanningslid te red. Daar was egter nog ʼn derde bemanningslid soek.

Vir 20 minute lank het hulle na die vermisde bemanningslid geroep en op die romp van The Grayling geslaan, in die hoop op ‘n reaksie. Sy liggaam het uiteindelik na die oppervlak gekom; hy het op sy maag, met sy gesig in die water gedryf. Kaptein Trosvig het sonder huiwering ingeduik.

“Ek het my tweelingbroer, Matt, in 2005 oorboord verloor. Ek het vir ʼn oomblik ʼn greep op hom gehad, maar ek het twee weke tevore ʼn operasie aan my gewrig gehad en kon hom nie uit die water optrek nie…hy het gesink. Toe ek dus die liggaam van die bemanningslid sien, het ek ingeduik om hom te help; ek móés net by hom uitkom en hom uit die water haal – dood of lewendig. Ek wou nie nog iemand aan die see afstaan nie, ” het Trosvig gesê.

Kyk hier na die video

U.S. Coast Guard Air Station Kodiak crews captured this footage of the captain of the fishing vessel Grayling rescuing two of his crewmen after the Grayling capsized off Kodiak, Alaska. A good Samaritan crew rescued one other crewman from the capsized Grayling.

Posted by U.S. Coast Guard on Wednesday, 26 July 2017

Oomblikke later het ‘n Amerikaanse Kuswag MH-60 Jayhawk-helikopter op die toneel aangekom en die redding op video vasgelê. Die vlieënier, lt. Kevin Riley, het Trosvig geprys omdat hy onmiddellik gereageer het en presies gedoen het wat nodig was. “Niemand wil in uiters koue water spring nie, want dit is gevaarlik. Ons het geweet ons het pas ʼn heldedaad gesien,” het Riley gesê.

Trosvig het die bewustelose bemanningslid in die reddingsboot gekry en onmiddellik met KPR begin. Met elke kompressie het Trosvig die naam van Jesus uitgeroep. “Ek het net ‘Jesus..Jesus…Jesus…Jesus’ gesê in plaas daarvan om ‘een…twee…drie…vier’ te sê,” het Trosvig gesê.

Die ander bemanning het vir hom gesê hulle was te laat; die man is dood, maar ná slegs nog vier kompressies het die bemanningslid se hart weer begin klop.

Trosvig sê dit was God wat die man uit die boot tot by die oppervlak gekry het, ondanks die feit dat hy geen lewensreddingsgordel aangehad het nie.

Die beseerde man is deur lt. Riley en sy span na Kodiak geneem. Sy identiteit is nog nie vrygestel nie, maar hy het geen breinskade opgedoen nie en herstel goed. Hy is selfs gewillig om volgende seisoen weer saam met Trosvig te gaan visvang.

Byskrif (Skermskoot: VSA-kuswag via Facebook / via CBN Nuus)


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.