-deur Lourieke Haller

11 Oktober 2018

Die afgelope naweek het TAS Forum (Truth And Science Forum) hulle skeppingstoer na Sutherland en Fraserburg in die Karoo aangebied.

Toerlede kon fossiele hanteer, dinosourusvoetspore in die natuur besigtig en tekens van Noag se vloed in die omgewing waarneem.

Die groep van 40 het Vrydagoggend om 07:00 vertrek op die eerste been van die toer. Tydens die naweek het mnr. Basie Basson,  ’n voormalige dosent in geografie aan die Bolandse Onderwyskollege,  Noag se vloed verduidelik en toe bewyse daarvan in die berge en omgewing van die toer uitgewys en vrae beantwoord.

Mnr. Basie Basson by die gefossileerde boom

 

Hoogtepunte van die toer was die besigtiging van fossiele in die veld by Drie Kuilen naby Touwsrivier, sterrekyk in Sutherland, die besigtiging van versteende Bradysourus- voetspore in die Karoo naby Fraserburg asook ’n gefossileerde boom naby Laingsburg. Dit is een ding om foto’s in boeke te besigtig, maar om die fossiele te hanteer en jou eie voet in versteende dinosourusvoetspore  te plaas, maak dit ’n werklikheid.

 

’n Gefossilleerde Krinoiëd, ‘n seediertjie soortgelyk aan die een regs bo

 

Kort ondersteunende lesings met Power Point-aanbiedings en interessante video’s het onderwerpe soos bewyse vir die vloed, dinosourusse, die ouderdom van die aarde en die Skepping, wat getuig van God se almag, behandel.

Die groep se ouderdom het gewissel van laerskoolkinders en tieners  tot ’n 77-jarige ouma. Die inligtingsessies was toeganklik vir almal en menige nuwe vriendskappe is gesmee.

Toerlede kon van die fossiele hanteer. Dit is die fossiel van ’n Dicynadon(tia)

 

TAS Forum se bestuur, Basie Basson  (Outeur van die boek: Evolusie: Wetenskap of Geloof?), Stephan Joubert en Emile du Plessis bied die toer een keer per jaar aan om die Genesis-weergawe van die vloed as histories en wetenskaplik korrek te bevestig; die waarheid en gesag van die Bybel as God se Woord te bevestig en beter begrip rondom die grootheid en soewereiniteit van God te vestig deur te fokus op die wonders van Sy skepping.

Gefossileerde seester by Drie Kuilen

 

Die Psalmdigter sê: ‘Ek dors na God, na die lewende God.” (Psalm 42:3) Ons honger eintlik na God en nie na wat Hy vir ons doen nie,” verduidelik Emile du Plessis van TAS Forum, “daar is geen bevredigende plaasvervanger vir God nie. Dit is belangrik om na God te dors vir wie Hy is, eerder as wat Hy vir ons doen of gee. Ons by TAS glo dat hierdie kopskuif makliker is as ons ons kennis van wie God is, kan versterk deur Hom beter te leer ken deur Sy Skepping en die waarheid en gesag van Sy Woord.”

Die gefossileerde voetspoor van die Bradysourus

 

Vir meer inligting oor TAS of die toer, kontak info@tasforum.org of besoek www.tasforum.org  of  www.facebook.com/tasforumsa .

Vir meer inligting oor die boek, EVOLUSIE: WETENSKAP OF GELOOF?, kontak mnr. Basson hnbevolution@gmail.com


Bron: tasforum.org

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.