-deur Lulu Steenkamp

6 April 2018

Thabazimbi is bevoorreg om die War Room , ‘n geestelike oorlogskamer, te hê.  Onder leiding van Gisela Joubert, ‘n inwoner van die omgewing , is die aanbiddingsplek in opdrag van die Here, in Januarie geopen.

Die War Room nooi alle Christen-kerke en denominasies uit om saam deel te neem aan geloofsaksies, aanbidding en gebed.

‘n Belangrike doelwit is om mense te ondersteun wat persoonlike probleme en noodsituasies ondervind.  Hulle kan inkom vir berading waartydens ‘n Geesvervulde bidder hulle sal bystaan en saam met hulle Troonkamer toe sal gaan.

Daar word ook gereeld gebid vir Suid-Afrika en al sy uitdagings, vir Thabazimbi en omgewing.  Die samehorigheid van gebedstryders en gebedsoldate bou ‘n geestelike altaar teen die vyand wat ons land en gemeenskap wil vernietig.

Op 3 Maart vanjaar het gelowiges by al die ingange van Thabazimbi bymekaar gekom.  Daar het hulle deur geestelike oorlogvoering en gebed verklaar dat die poorte van die dorp gesluit is vir die vyand.  En, soos Dawid dit doen in Psalm 24:8-9, die poorte van die dorp oopgemaak vir die Erekoning om in te gaan.

‘n Volgende gebedsaksie word beoog vir die deurnagmarathon op 5 Mei.  Die War Room vra dat spanne bidders die kamer sal kontak sodat ‘n ononderbroke gebedsrooster opgestel word.  Die eerste span bidders sal om sesuur die aand by die oorlogskamer met gebed begin.  Wanneer die tweede span opdaag,  sal ‘n aflosstokkie aan hulle oorhandig word.  Sou iets voorval wat die volgende span vertraag, sal die span met die stokkie aanhou bid totdat hulle opdaag.  Binne die aflosstokkie is die inligting waarvoor gebid word.  Só sal daar aanhoudend gebid word tot om sesuur die oggend van 6 Mei.

Die War Room is n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie.  Toegang is gratis.  Die bedieners in die oorlogskamer is vrywilligers.  Donasies word gebruik om die huur van die kamers te betaal.  Die War Room is nie beskikbaar vir eredienste of funksies van ‘n spesifieke kerk of denominasie nie en is ook nie oop op Sondae nie.

Belangstellendes word hartlik uitgenooi om Gisela by 078 855 4345 te skakel.


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.