13 Oktober 2018

Die media skat dat die ANC-regering ’n verbysterende R75 biljoen van die belastingbetaler se geld in die 2017/18 finansiële jaar verkwis het.

Dit, terwyl gewone Suid-Afrikaners steier onder stygende pryse van voedsel, vervoer en noodsaaklike dienste. Die regering laat burgers betaal vir sy korrupte praktyke.

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, se verslag oor die regering se finansiële wanbestuur, onthul ’n chaotiese toestand van sake. Byvoorbeeld, die departement van waterwese het R6,156 biljoen aan onreëlmatige uitgawes verkwis. Nomvula Mokonyane, die minister wat verantwoordelik is vir die departement, is beloon met ’n ministeriële pos.

Die finansies van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT) is so chaoties dat die ouditeur-generaal nie ’n mening oor die trust se bates en uitgawes kon gee nie; R1,9 miljard is in gedrang.

Dit lyk ook of die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) Eskom die groen lig gegee het om die elektrisiteitstariewe te verhoog en so die biljoene rande te herwin wat weens massiewe korrupsie, diefstal, bedrog en wanbestuur verlore gegaan het.

Eerlike, hardwerkende burgers staar swaar ekonomiese toestande in die gesig. Tog lyk dit geensins of amptenare ekonomies swaarkry nie. Senior staatsamptenare vlieg steeds besigheidsklas, bly in vyfsterhotelle en ry duur luukse voertuie. Dit is tipiese ANC-bestuurstyl. Die regerende elite maak leë beloftes terwyl die ekonomie ten grond gaan, werkloosheid styg en townships brand. Die ANC is so onbekwaam dat dit openbare protesoptogte organiseer teen sy eie onvermoë om diens te lewer.

Getuienis uit die ondersoeke na staatskaping en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bewys dat die ANC nie in staat is om die land te regeer nie en dat dit volgende jaar by die stembusse die deur gewys moet word.

Ek monitor ook die wetgewing oor haatspraak en haatmisdade. Vermoedelik hou die parlement hierdie omstrede en gevaarlike wetsontwerp terug tot ná die algemene verkiesing. Die wetsontwerpe wat ouers kriminaliseer as hulle hul kinders pakslae gee, genadedood wettig en amptenare verplig om gay huwelike te bekragtig, sal almal op die ys gehou word totdat die ANC – soos hulle hoop, weer in 2019 aan bewind kom.

Dit is ook geen verrassing dat die leierskap van die EFF beskuldig word van korrupsie en seksuele uitbuiting deur voormalige lede wat uit protes bedank het nie.

Die ANC, DA, EFF en COPE sal poog om die Christen-kieser te manipuleer sodat die partye bemagtig word om hul anti-lewe, anti-gesin en anti-godsdiensvryheidsbeleid te bevorder. Met ander woorde, Christen-kiesers sal mislei word om politieke partye te bemagtig wat die heiligheid van die lewe doelbewus ondermyn, geloof en die gesin destabiliseer en godsdiensvryheid ondermyn.

Tragies genoeg kan al die gebedsbyeenkomste in die wêreld nie die selfvernietigende gedrag van Christene verander wat hul eie gebede (vir ’n Godvresende regering) deur hulle gedrag teenwerk nie.

Die Skrif verklaar: “My volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis” – Hosea 4:6. Let op, die Skrif sê nie, gaan ten gronde weens ’n gebrek aan gebed, geld of moeite nie – maar kennis!

Wanneer Christene vrywillig korrupte en goddelose mans en vroue tot gesagsposisies verkies, word hulle aandadig tot die sosiale en ekonomiese agteruitgang wat volg.

Gebed sonder ooreenstemmende dade is vrugteloos – ongeag getalle. Gebed gevolg deur sinvolle aksie is kragtig en transformerend! Weet wat jou stem werd is – stem volgens jou waardes!

Deur Errol Naidoo

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.