-deur Daniel Krygier, World Israel News

11 Maart 2019

Brittanje se besluit om Hisbolla as geheel te verban, is ’n ernstige terugslag vir die Iran-Hisbolla-Sirië alliansie se finansiering van sy duur uitbreidingsbeleid in die Midde-Ooste.

Die Verenigde Koninkryk se onlangse besluit om Hisbolla se sogenaamde “politieke vleuel” ook te verbied, kan moontlik die dinamiek van die verhouding tussen Europa en Israel verander en ’n mate van duidelikheid bring oor Europa se standpunt oor terrorisme. Dit kan ook terreurgroepe se vermoë beperk om fondse in te samel.

Engeland se minister van buitelandse sake, Sajid Javid, het beklemtoon dat die besluit om die hele Hisbolla-beweging as ’n terroriste-organisasie te bestempel,  ter wille van die Britse volk se veiligheid is. Javid het ook Hisbolla veroordeel vir die organisasie se rol in die ondergrawing van die Midde-Ooste.

“Hisbolla gaan voort met sy pogings om die situasie in die Midde-Ooste te destabiliseer – en ons kan nie meer onderskeid tref tussen hulle militêre vleuel (wat reeds verban is) en die politieke party nie. As gevolg hiervan het ek besluit om die groep in sy geheel te verban.”

Hisbolla word as ’n terreurorganisasie beskryf deur Kanada, die VSA, Israel, Nederland en die Arabiese Liga.

Die Europese Unie en sy voorste lidstaat, Duitsland, weier egter om die hele Hisbolla as ’n onwettige terreurorganisasie te definieer. As gevolg hiervan is Hisbolla se sogenaamde politieke vleuel toegelaat om deur die strate van Europa te paradeer terwyl hy ’n beroep doen op die vernietiging van Israel. Groot Hisbolla-georganiseerde saamtrekke is Europese stede soos Londen en Berlyn gehou.

As die Britse parlement die besluit goedkeur om die hele Hisbolla te verbied, sal dit waarskynlik ’n einde maak aan die Hisbolla-byeenkomste in die strate van Londen. Nog belangriker – dit kan ‘n kettingreaksie begin wat Hisbolla se finansiële lewensvatbaarheid sal belemmer.

Europa is ’n belangrike bron van finansies vir Hisbolla-aktiwiteite. Verskeie Moslem-organisasies en menseregte-organisasies in Europa dien as ’n front vir die invordering van donasies wat na Hisbolla in Libanon gestuur word.

Volgens verskeie Duitse inligtingsverslae is daar ongeveer 950 organisasies in Duitsland wat bande het met Hisbolla.

Die verbod op die hele Hisbolla-terreurorganisasie is ’n wen-wen-situasie vir die Weste, Israel en die Arabiese Liga.

Foto: AP / Christopher Furlong


Bron:  worldisraelnews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.