-deur Sam Rodriguez / CfaN

12 September 2018

Meer as 14 000 mense het bymekaargekom vir die Christ for all Nations (CfaN) FIRE-konferensie in Boedapest, Hongarye. Tydens die geleentheid wat van 24 tot 26 Augustus gehou is, het 1 450 mense wat tydens die dienste tot bekering gekom het, kaartjies ingevul en ingehandig wat hulle besluit om Jesus te volg bevestig het. Dit is meer as 10 persent van die skare!

Daarbenewens het vrywilligers 500 000 Hongaarse kopieë van die hoofevangelis, Daniel Kolenda, se nuwe boek, Reckless Love, uitgehandig. ’n Verstommende 25 persent van die stad het ’n kopie van die kort, maar kragtige boek ontvang. Reckless Love ondersoek Christus se gelykenis van die verlore seun, ’n verhaal van God se nimmereindigende liefde vir die mensdom. Nou kan ’n halfmiljoen mense (en hul familie en vriende) hierdie persoonlike uitnodiging om “huis toe te kom” in hulle eie taal lees.

Die predikers sluit in Daniel Kolenda (president van CfaN), Todd White (evangelis), Ben Fitzgerald (leier van Awakening Europe and GODfest Ministries), Eric Gilmour (stigter van Sonship International), Jean-Luc Trachsel (evangelis), Peter Vandenberg (visepresident van CfaN) en Russell K. Benson (assistent internasionale direkteur van CfaN). Die aanbiddingspan is bygestaan deur aanbiddingsevangelis en CfaN-personeellid, Charles Ciepiel.

Ciepiel het oor die byeenkoms gesê: “Dit is wonderlik om te sien hoe God besig is om in stedelike Europa te werk. In Europa is slegs 1 persent Christene dié wat Jesus werklik volg. Stede is besonder moeilik om te bedien. Om dus 14 000 mense te sien opdaag vir ’n Geesvervulde byeenkoms … maak ’n mens bewoë. En die mense is opreg. God is werklik besig om iets in Boedapest te begin en dit gaan versprei.”

CfaN se visepresident, Peter Vandenberg, het dit met sy openingsgebed bevestig: “Mag die vure van herlewing van hier af oor die hele Europa versprei!”

God het die woord met talle wonderbaarlike genesings opgevolg. Een vrou wat jare gelede ’n skouerbesering opgedoen het en konstant pyn verduur sodat sy skaars kon slaap, is tydens een van die dienste genees. Sy het skielik haar arms in die lug opgesteek en God begin loof vir ’n totale, bonatuurlike genesing.

Met sulke groot skares en getuienisse soos hierdie, kan ons seker wees dat die gety in Europa besig is om te draai.

Foto: Todd White (Christ for all Nations VSA / Facebook)


Bron: charismanews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.