-deur ACDP Wes-Kaap

3 Julie 2018

Die DA in die Wes-Kaap se provinsiale parlement het ’n beroep op die speaker gedoen om die ACDP se provinsiale leier, Ferlon Christians, te ondersoek omdat hy die burgemeester van George se reg verdedig het om sy persoonlike Christelike oortuigings en sienings in die openbaar bekend te maak. Die DA het reeds dissiplinêre stappe teen die burgemeester ingestel en wil nou ook die ACDP se Ferlon Christians dissiplineer.

DA diskrimineer teen Christians:

Die DA sal duidelik nie rus totdat Christene nie meer toegelaat word om in die openbaar oor hul Christelike oortuigings te praat nie. “Dit is godsdiensdiskriminasie,” sê mnr. Christians. “Die DA sal nooit probeer om Moslems en Jode se godsdiensvryhede te beperk nie, waarom teiken hulle ons Christene dan?”

Die DA se pogings om die toename in “korrektiewe verkragtings” in Suid-Afrika te verbind met wat die Bybel sê oor homoseksualiteit, is roekeloos en vals. Nog ’n valsheid is die DA se vertroue op die aanspraak dat “korrektiewe verkragting in Suid-Afrika die hoogste ter wêreld is.” Daar is geen statistiek om hierdie misleidende en sensasie-soekende oordrywing te steun om hul anti-Christelike agenda te regverdig nie.

Ware Christene rand nie aan ander mense aan of haat dié wat van ons verskil nie. Ons is lief vir hulle, dien hulle en bid vir hulle, soos die Bybel ons beveel. “Korrektiewe verkragting” is ’n poging om iemand wat homoseksueel is, te beseer, te straf en “reg te stel” deur persone wat intense haat en onverdraagsaamheid koester. Christene koester nie sulke gevoelens nie en glo ook nie in sulke gedrag nie. Christene tree nie so op nie.

Die ACDP keur nie aanvalle op enigiemand goed nie, insluitend aanvalle op homoseksuele individue. Ons veroordeel geweld en haat in al sy vorme, insluitend “korrektiewe verkragting,” sê mnr. Christians.

Die ACDP sal nie “stappe neem teen mnr. Ferlon Christians” soos die DA versoek het nie. In plaas daarvan verwelkom die ACDP sy verdediging van die Suid-Afrikaanse grondwet wat die reg op geloofsvryheid en vryheid van uitdrukking verskans. Dit is elkeen se reg, insluitend Christene.

Christene in die DA en wat die DA ondersteun, moet besef dat die DA nie die Bybel respekteer nie. Die DA respekteer nie jou Christelike geloof nie en sal jou tot stilswye boelie soos dit met die burgemeester van George gedoen het.


Artikel bron: www.facebook.com

Hierdie artikel is direk aan Joynews.co.za gestuur deur die ACDP. Ons het die DA gekontak vir sy kommentaar, maar het tot dusver nog niks ontvang nie. Ons sal die DA se antwoord publiseer sodra ons ’n antwoord van hom ontvang.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.