-deur Alyssa Duvall

9 Januarie 2018

Meer as 100 Christene in Griekeland het onder leiding van hulle priester ‘n protesoptog gehou na die openbare terrein waar ‘n omstrede beeldhouwerk opgerig is en  het aangedring dat die beeld verwyder moet word. Baie Christene in die omgewing glo dat die beeld van ‘n rooi, naakte man met groot vlerke, Lucifer verteenwoordig.

Die betogers het met Christelike ikone en Griekse vlae onder die beeld, getiteld “Phylax”, gesange gesing.

Sedert die beeld op 5 Desember naby die Palaio Faliro-hawe in Trokadero, suid van Athene, opgerig is,  het die standbeeld onder twee voorvalle van  vandalisme deurgeloop. Inwoners van die Atheense voorstad het ‘n plaaslike petisie begin om die beeld te laat verwyder.

Die omstredenheid het gevolg omdat die Palaio Faliro Munisipaliteit die standbeeld die “beskermengel” van die Suid-Athene-voorstad genoem het. Burgemeester Dionysis Hatzidakis beweer egter die Phylax is nie ‘n verwysing na beskermengele soos uitgebeeld in die Christendom nie.

Volgens die plaaslike priester, Patapios Argyros, is dit egter nie waar nie. Argyros het in ‘n ope brief aan die burgemeester gesê: “Die beeldhouwerk is ‘n duiwel en ‘n soldaat van Satan wat verag  moet word as godslasterlik teen die heilige drie-eenheid, eerder as om dit te vereer. Dit is aanstootlik vir die Ortodoksie en die Christelike geloof. ”

Die kunstenaar, Kostis Georgiou , het  skerp met Argyros verskil tydens ‘n onderhoud met ‘n plaaslike nuusagentskap. “Wie sê dat satan se kleur  rooi is?” het Georgiou gevra. “Daar is engele met rooi vlerke en rooi hare.” Georgiou beweer dat betogers opgesweep word deur ‘n “prediker van haat”.

“Die werk is onafhanklik van enige godsdienstige simbole en embleme,” het Georgiou bygevoeg. “As hulle dit wil sloop, laat hulle dit doen. As hulle dit wil verbrand, laat hulle dit verbrand soos hulle in die verlede boeke verbrand het.”


Bron: hellochristian.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.